Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 25:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Amasia was 25 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jehoaddan van Jerusalem.

2. Die Here was tevrede met hom, al het hy Hom halfhartig gedien.

3. Toe hy sy koningskap goed gevestig het, het hy die amptenare doodgemaak wat vir sy pa se dood verantwoordelik was.

4. Maar hy het nie hulle kinders doodgemaak nie. Dit was uit gehoorsaamheid aan die Here se reël wat Moses neergeskryf het en wat lui: “Ouers kan nie oor hulle kinders se optrede of kinders oor hulle ouers s’n doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde veroordeel word.”

5. Amasia het Juda en Benjamin se leër opgeroep. Hy het hulle in groter en kleiner afdelings laat aantree. Die soldate was almal ouer as twintig en vaardig met spies en skild. Daar was 300 000 goeie soldate wat op kommando kon vertrek.

6. Hy het ’n verdere 100 000 soldate teen omtrent drie en ’n half ton silwer van Israel gehuur.

7. ’n Profeet van God het met Amasia kom praat: “O Koning, u moenie die soldate van Israel saamvat op u veldtog nie. Die Here is nie lojaal aan Israel, aan daardie spul Efraimiete nie!

8. Gaan alleen, moenie saam met hulle gaan veg nie, want die Here sal u laat struikel voor die vyand. Onthou, die Here kan ’n mens óf help, óf jou laat struikel.”

9. Amasia het hom geantwoord: “Wat stel jy dan voor moet ek doen met die klomp silwer wat ek klaar betaal het om die Israeliete te huur?”“Die Here kan u tog baie meer as dit gee!” het die man van God geantwoord.

10. Amasia het die huursoldate uit Efraim toe ontslaan en hulle huis toe gestuur. Hulle was baie ontevrede oor Juda se optrede en het woedend huis toe gegaan.

11. Amasia het sy leër toe uitgelei en 10 000 soldate van Seïr in die Soutdal verslaan.

12. Hulle het ’n verdere 10 000 gevange geneem. Dié groep is na ’n krans toe geneem en bo van die krans af gegooi. Hulle het hulle almal te pletter geval.

13. Die Israelitiese soldate wat Amasia weggestuur het, het intussen in Juda amok gemaak. Hulle het op ’n plundertog deur Juda gegaan en ’n klomp dorpe tussen Samaria en Bet-Goron aangeval. Hulle het sowat 3 000 mense doodgemaak en ’n groot hoeveelheid buit vir hulle gevat.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 25