Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:22-32 Die Boodskap (DB)

22. Net toe hulle so begin juig en sing, het die Here gesorg dat die leërs van Ammon, Moab en die mense van die Seïrberge af, wat eintlik teen Juda wou kom oorlog maak, teen mekaar begin veg.

23. Eers het die leërs van Ammon en Moab saam teen die mense van die Seïrberge geveg en hulle almal doodgemaak. Toe hulle daarmee klaar was, het hulle teen mekaar begin veg.

24. Toe die Judeërs by hulle uitkykpunt kom, het hulle in die vallei afgekyk en net ’n klomp lyke daar sien lê. Nie een van die vyand het weggekom nie.

25. Daarna het Josafat en sy leër die lyke geplunder en ’n geweldige klomp goed bymekaargemaak. Daar was klere en waardevolle voorwerpe, soveel dat hulle drie dae lank gewerk het om alles bymekaar te kry.

26. Op die vierde dag het hulle in die Lofdal bymekaargekom. Hulle het die plek só genoem omdat dit die plek is waar hulle die Here geloof het en vir Hom dankie gesê het vir wat Hy vir hulle gedoen het. Die plek word nog altyd Lofdal genoem.

27. Daarna het die hele leër van Josafat teruggegaan Jerusalem toe. Hulle was baie bly omdat die Here vir hulle ’n oorwinning oor hulle vyande gegee het.

28. Hulle het in Jerusalem ingekom en na die tempel toe gegaan, terwyl die harpe en liere gespeel het en die trompette geblaas is.

29. Toe Israel se buurvolke hoor dat die Here self vir Israel teen hulle vyande geveg het, het hulle baie bang geword vir God.

30. As gevolg daarvan het Josafat se koninkryk vrede beleef. God het vir hom vrede gegee met al sy buurlande.

31. Josafat was 35 jaar oud toe hy koning van Juda geword het. Hy het 25 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuba, ’n dogter van Silgi.

32. Hy het soos sy pa Asa regeer en dinge gedoen waarvan die Here gehou het,

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20