Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 18:18-33 Die Boodskap (DB)

18. Maar Miga het voortgegaan en die res van die visioen wat die Here hom laat sien het, vir hulle beskryf: “Ek het die Here op sy troon sien sit. Al die hemelwesens het weerskante voor Hom gestaan.

19. “Die Here sê toe: ‘Wie van julle sal Israel se koning, Agab, kan ompraat om Ramot in Gilead te gaan aanval, sodat hy daar kan doodgaan?’

20. “Toe kom staan daar ’n gees voor die Here en sê: ‘Ek sal hom kan ompraat.’“‘Maar hoe?’ het die Here hom gevra.

21. “Hy het geantwoord: ‘Ek sal sorg dat al sy profete vir hom lieg.’ “‘Jy kan dit maar gaan doen, want jy sal dit regkry!’ het die Here gesê.

22. “Verstaan nou mooi, geagte koning. Die Here het toegelaat dat die profete vir u lieg, want Hy beplan ’n groot ramp vir u.”

23. Toe hy dit hoor, het Sedekia op Miga afgestorm en hom in die gesig geslaan. “Hoe is die Here se Gees nogal van my af weg om met jou te gaan praat?” wou hy weet.

24. Miga het gesê: “Jy sal dit sommer gou uitvind, wanneer jy in ’n kamer moet invlug om weg te kruip!”

25. Die koning het beveel: “Vang Miga en vat hom vir Amon, die stadsbevelvoerder, en vir my seun Joas.

26. Sê vir hulle ek sê hulle moet hom in die tronk gooi. Hy moet net brood en water kry, tot ek veilig van die geveg af terugkom.”

27. Maar Miga het vir die koning gesê: “As u veilig terugkom, het die Here nooit deur my gepraat nie,” en vir die omstanders het hy gesê: “Onthou maar wat ek gesê het!”

28. Die twee konings het toe met hulle leërs na Ramot in Gilead vertrek.

29. Agab het vir Josafat gesê: “As die geveg begin, gaan ek my vermom sodat niemand my kan herken nie. Hou jy liewer jou koninklike klere aan.” Agab het hom toe vermom en toe die geveg begin, was hulle daar.

30. Die koning van Aram, teen wie hulle geveg het, het vir sy offisiere wat strydwabevelvoerders was, gesê: “Val net die koning van Israel aan, niemand anders nie!”

31. Toe hulle vir Josafat sien, het die offisiere geskree: “Daar is die koning van Israel!” en hulle het hom aangeval. Josafat het egter geskree en die Here gevra om hom te red. God het toe ingegryp en die aanvallers van hom af laat padgee.

32. Die offisiere het intussen besef dat hy nie Israel se koning is nie en die agtervolging gestaak.

33. Een van die gewone Aramese soldate het sy boog gespan en ’n pyl weggeskiet sonder om na enigiets spesifieks te mik. Die pyl het vir Agab getref en tussen die plate van sy pantser ingesteek. Agab het besef wat gebeur het en vir sy strydwadrywer gesê: “Swaai om, kry my uit die geveg uit, want ek is gewond.”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 18