Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 16:1-8 Die Boodskap (DB)

1. In die 36ste jaar dat Asa regeer het, het Israel se koning, Baesa, teen Juda begin oorlog maak. Baesa het Rama tot ’n baie sterk en veilige stad opgebou om te keer dat Asa se mense Juda kon verlaat of inkom.

2. Asa het toe silwer en goud uit die tempel en sy paleis se skatkamers laat haal en dit vir Ben-Hadad gestuur. Ben-Hadad het in Damaskus gewoon en was die koning van Aram. Asa se boodskap aan Ben-Hadad was:

3. “Hiermee hernu ek die ooreenkoms wat reeds tussen my pa en u pa bestaan het. Hier is ’n geskenk van silwer en goud vir u. Nou wil ek vra dat u u ooreenkoms met koning Baesa van Israel moet verbreek. Val hom aan, sodat hy my kan uitlos.”

4. Ben-Hadad het besluit om te doen wat Asa gevra het. Hy het die bevelvoerders van sy leërs gestuur om Israel aan te val. Hulle het die stede Ijon, Dan en Abel-Maim verwoes en die voorraadstede van Naftali geplunder.

5. Toe Baesa dit hoor, het hy dadelik met sy bouwerk in Rama opgehou.

6. Asa het toe vinnig ingespring. Hy het al die mense van Juda opgeroep om die bouklip en hout wat Baesa in Rama gebruik het, weg te dra. Hulle het dit toe gebruik om die dorpe Geba en Mispa op te bou.

7. In dié tyd het Hanani, die siener, met koning Asa gaan praat en vir hom gesê: “U het nou op die koning van Aram vertrou om u te help, in plaas daarvan om op die Here, u God, te vertrou. Daarom het u ’n kans om die leër van Aram te verslaan deur u vingers laat glip.

8. Onthou u met hoe ’n groot leër die mense van Kus en Libië u aangeval het? Daar was verskriklik baie strydwaens en perderuiters. Maar toe het u op die Here vertrou om te help en Hy het u laat wen.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 16