Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 25:8-21 Die Boodskap (DB)

8. Nebusaradan, een van Nebukadnesar se offisiere en vertrouelinge, is gestuur om Jerusalem te gaan vernietig. Dit was op die sewende dag van die vyfde maand in die negentiende jaar wat Nebukadnesar regeer het.

9. Hy het die tempel en die paleis en elke groot gebou in die stad begin afbrand.

10. Sy soldate het Jerusalem se hele stadsmuur van ’n kant af omgegooi en afgebreek.

11. Die res van die mense in Jerusalem, almal wat nog in die stad oor was en dié wat voorheen na die Babiloniërs oorgeloop het, is deur Nebusaradan na Babel toe weggevoer.

12. Net ’n paar van die armstes het in die land gebly om op die lande en in die wingerde te werk.

13. Die soldate het al die brons in die tempel bymekaargemaak. Hulle het die bronspilare, die bronswaterkarretjies en groot bronswaterbak opgebreek en die metaal Babel toe gevat.

14. Dieselfde het gebeur met die kleiner bronsvoorwerpe, soos die potte, grawe, skêre, panne en ander gereedskap wat in die tempel gebruik is.

15. Hulle het ook die vuurbakke en komme buitgemaak wat van suiwer goud en silwer gemaak is.

16. Die brons wat hulle van die tempel af weggeneem het, is vroeër deur koning Salomo vir die tempel laat maak. Dit was sóveel dat dit nie geweeg kon word nie.

17. Om ’n voorbeeld te noem: die twee pilare was elk agt meter hoog en die bronskapiteel bo-op was een en ’n derde meter hoog. Die rooster met die granate wat bo-op die kapitele was, was net van brons gemaak.

18. Nebusaradan het nog ’n klomp mense in Jerusalem gevange geneem. Onder hulle was die hoëpriester Seraja en die priester volgende in rang, Sefanja, asook drie deurwagte van die tempel.

19. In die stad het hy ook die offisier gevang wat in bevel van die soldate was, saam met vyf vriende van die koning en die hoof van die leër se sekretaris wat soldate moes oproep, asook ’n verdere 60 burgers.

20. Hy het hulle almal as gevangenes na die koning van Babel in Ribla geneem

21. wat hulle net daar laat doodmaak het.Só is die hele Juda in ballingskap uit hulle land uit weggevoer.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 25