Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:20-29 Die Boodskap (DB)

20. Hy het die priesters wat by die heilige plekke gewerk het op die altare laat doodmaak en mensbene op die altare verbrand om hulle te ontwy.Daarna het hy na Jerusalem toe teruggegaan.

21. Josia het al sy mense beveel: “Julle moet die paasfees ter ere van die Here julle God vier, soos dit in die wetboek beskryf word.”

22. Die paasfees is in al die jare van die konings van Israel en Juda nie só gevier nie. Dit het laas gebeur in die tyd toe die rigters in Israel regeer het.

23. Die paasfees ter ere van die Here is in Jerusalem tot eer van die Here gevier in die agtiende jaar wat Josia regeer het.

24. By alles wat hy reeds gedoen het, het Josia ook nog ontslae geraak van alle mense wat geeste oproep en waarsêery beoefen het, asook van alle huisgode en elke ander manier waarop afgode in Juda of in Jerusalem gedien kon word. Dit was alles bedoel om te voldoen aan die Here se eise volgens die wetboek wat Gilkija in die tempel gekry het.

25. Daar was in die hele geskiedenis nie nog ’n koning soos Josia nie. Daar was nie een wat hom só heelhartig en met al sy krag daaraan gewy het om alles te doen wat die Here volgens die wet van Moses van hom verwag het nie. Daar was ook ná hom nie weer so ’n koning soos hy nie.

26. Die Here het egter nie sy besluit oor Juda verander nie. Hy was nog altyd woedend oor die dinge wat Manasse gedoen het.

27. Die Here het besluit: “Ek gaan van Juda ontslae raak soos wat Ek van Israel ontslae geraak het. Ook Jerusalem wat Ek self gekies het en die tempel waarvan Ek vroeër gesê het: ‘Dit is die plek waar Ek sal woon,’ verwerp Ek nou.”

28. Die res van Josia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.

29. Terwyl Josia koning was, het farao Neko, die koning van Egipte, na die Eufraatrivier toe gegaan om die koning van Assirië te gaan help. Josia wou dit keer en het met sy leër teen die farao gaan veg. Hulle het mekaar by Megiddo ontmoet, maar Neko het Josia doodgemaak.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23