Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:19-28 Die Boodskap (DB)

19. Maar selfs Juda het nie gedoen wat die Here wou hê nie. Hulle het dieselfde dinge as Israel gedoen.

20. Die Here het toe Israel se hele nageslag verwerp. Hy het hulle gestraf deur hulle oor te gee aan hulle vyande totdat dié hulle vernietig het.

21. Toe die Here destyds vir Israel van die koninkryk van Dawid laat wegbreek het, het hulle Jerobeam, die seun van Nebat, koning gemaak. Hy het die Israeliete van die Here af weggelei en hulle afgode laat dien.

22. Hulle het net nooit opgehou om soos Jerobeam die afgode te dien nie,

23. totdat die Here besluit het om hulle te verwerp. Dít is waaroor die profete, sy dienaars, Israel altyd gewaarsku het. Israel is toe weggeneem na die Assiriërs se land toe en dit is waar hulle vandag nog is.

24. Die koning van Assirië het ander mense in Israel hervestig. Hulle was afkomstig uit stede soos Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim. Hulle het in Samaria en die stede daar rondom gaan woon en die land beset.

25. Aan die begin het die nuwe inwoners nie die Here gedien nie. Hy het toe leeus onder hulle ingestuur om party van hulle dood te maak.

26. Die volgende boodskap is toe na die koning van Assirië gestuur: “Die mense wat u in die omgewing van Samaria hervestig het, weet nie hoe om die God van die land te eer nie. Nou het Hy leeus gestuur wat onder hulle maai omdat hulle Hom nie reg dien nie.”

27. Die Assiriese koning het toe beveel: “Stuur een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is terug Israel toe. Hy kan die nuwe mense leer hoe om die God van die land reg te eer.”

28. So het een van die priesters teruggekom na Israel toe en in Bet-El gaan woon. Hy het die mense geleer hoe hulle die Here moet eer.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17