Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 9:2-12 Die Boodskap (DB)

2. Hy het ’n seun gehad met die naam Saul. Saul was ’n puik jong man. Daar was niemand soos hy onder al die Israeliete nie. Hy was ’n hele kop langer as die ander Israeliete.

3. Toe Kis se donkiemerries op ’n keer wegraak, sê hy vir Saul: “Vat een van die werkers en gaan soek die donkies.”

4. Saul en die werker het oral gesoek: in die bergland van Efraim en in die omgewing van Salisa, Saälim en Jemina. Hulle kon die donkies nêrens kry nie.

5. Toe hulle tot in die omgewing van Suf gesoek het, sê Saul vir die werker wat by hom is: “Kom ons gaan maar terug huis toe, anders is my pa naderhand meer bekommerd oor ons as oor die donkies.”

6. Maar die werker sê vir hom: “Weet u, ek hoor in hierdie dorp is daar ’n Godsman. Die mense het respek vir hom, want al sy woorde word waar. Kom ons gaan soontoe, miskien kan hy vir ons sê waar om te soek.”

7. Saul sê vir die werker: “Ja, ons kan gaan, maar waarmee betaal ons die man? Die brood in ons sakke is gedaan. Ons het nie ’n geskenk by ons om vir die Godsman te gee nie. Wat anders het ons?”

8. “Ek het hier nog ’n stukkie silwer,” antwoord die werker. “Ek sal dít vir die Godsman gee, dan kan hy vir ons sê waar om te soek.”

9. (Vroeër het ’n mens in Israel, wanneer jy by God raad wou vra, gesê: “Kom ons gaan na die siener toe,” want vroeër is profete sieners genoem.)

10. “Dis reg so,” sê Saul, “kom ons gaan.” So gaan hulle toe na die dorp toe waar die Godsman was.

11. Terwyl hulle teen die bult opgaan na die dorp toe, kom hulle meisies teë wat gaan water skep. Hulle vra hulle toe: “Is die siener hier?”

12. “Ja,” antwoord die meisies. “Hy is net voor julle. Maar julle moet gou maak; hy het net vandag na ons dorp toe gekom, want die mense offer vandag by die offerplek.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 9