Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 28:8-15 Die Boodskap (DB)

8. Saul het homself vermom en gewone klere aangetrek. Hy en twee van sy werkers het in die nag na die vrou toe gegaan. Daar aangekom, sê hy vir haar: “Jy moet asseblief vir my iemand se gees oproep. Ek sal vir jou sê wie s’n.”

9. Die vrou sê vir hom: “Maar jy weet mos wat Saul gedoen het: hy het dié wat geeste oproep en die fortuinvertellers uit die land uitgeroei. Wil jy my laat doodmaak deur my in ’n lokval te lei?”

10. Saul het vir haar voor die Here gesweer en gesê: “So waar as die Here leef, jy sal niks oorkom nie.”

11. Toe vra die vrou: “Wie moet ek vir jou oproep?”Hy antwoord: “Roep Samuel vir my op.”

12. Toe die vrou Samuel sien, het sy hard gegil. Sy het vir Saul gesê: “Hoekom het u my om die bos gelei? U is Saul!”

13. “Moenie bang wees nie,” sê koning Saul vir haar, “sê vir my wat jy sien.”Die vrou antwoord hom: “Ek sien ’n gees wat uit die onderwêreld opkom!”

14. “Hoe lyk hy?” vra Saul. Sy antwoord: “Dis ’n ou man met ’n profetemantel aan.”Toe weet Saul dis Samuel. Hy het op sy knieë gaan staan en met sy gesig teen die grond gebuig.

15. Samuel vra toe vir Saul: “Hoekom pla jy my? Hoekom laat jy my oproep?”Saul antwoord hom: “Ek is baie diep in die moeilikheid: die Filistyne maak oorlog teen my, en God het my verlaat. Hy antwoord my nie meer nie, nie deur profete of drome nie. Ek het jou laat oproep om te hoor wat ek moet doen.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 28