Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 28:16-22 Die Boodskap (DB)

16. Samuel sê vir hom: “Maar hoekom kom vra jy mý as die Here die rug vir jou gedraai en jou vyand geword het?

17. Die Here doen maar net wat ek vir jou gesê het Hy gaan doen: Hy het jou koningskap van jou afgeskeur en dit aan iemand anders, aan Dawid, gegee.

18. Die Here doen dit aan jou omdat jy nie na Hom wou luister nie. Hy was kwaad vir die Amalekiete en jy moes hulle uitgeroei het.

19. Die Here gaan die Israeliete saam met jou aan die Filistyne oorgee. Môre sal jy en jou seuns by my in die onderwêreld wees. Ja, die Here gaan die leër van Israel teen die Filistyne laat verloor.”

20. Toe Saul hoor wat Samuel sê, het hy só geskrik dat hy net daar, so groot as wat hy is, op die grond neergeslaan het. Hy het in elk geval nie meer krag in sy lyf gehad nie, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie.

21. Die vrou het nader gekom en gesien hoe Saul op die grond lê en ruk. Sy sê toe vir hom: “My koning, ek het na u geluister; ek het my lewe gewaag en gedoen wat u vir my gesê het.

22. Nou moet u asseblief ook na mý luister: laat ek vir my koning ’n stukkie brood bring dat u weer krag kan kry vir die pad wat voorlê.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 28