Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 26:5-16 Die Boodskap (DB)

5. Dawid het toe self na die plek gegaan waar Saul se kamp is en gesien waar Saul en generaal Abner, Ner se seun, slaap. Die manskappe het in ’n kring gelê en slaap, met Saul in die middel.

6. Agimelek, die Hetiet, en Abisai, Joab se broer (hulle was Seruja se seuns), was by Dawid. Hy vra toe vir hulle: “Wie sal saam met my na Saul toe gaan in die kamp?”“Ék sal saam met jou gaan,” antwoord Abisai.

7. Toe dit pikdonker is, sluip Dawid en Abisai by die manskappe verby, en jou waarlik, daar lê Saul vas aan die slaap met Abner en die manskappe in ’n kring om hom. Sy spies is by sy kop in die grond gesteek.

8. “God het vannag jou vyand in jou mag gegee,” fluister Abisai vir Dawid. “Laat ek hom nou met een hou met die spies deurboor. Net een steek sal genoeg wees.”

9. “Nee, moenie hom doodmaak nie,” fluister Dawid vir Abisai. “Iemand wat sy hand teen die Here se gesalfde oplig, sal nie ongestraf bly nie.

10. So waar as die Here leef, die Here self sal Saul laat doodgaan: wanneer sy tyd kom, sal hy ’n natuurlike dood sterf, of hy sal in ’n geveg omkom.

11. Die Here bewaar my daarvan dat ek my hand teen sy gesalfde oplig. Kom ons vat liewer sy spies daar by sy kop en sy waterkruik, dan maak ons dat ons wegkom.”

12. Dawid het die spies en die waterkruik wat by Saul se kop was, gevat en toe het hulle twee padgegee. Niemand het hulle gesien of eers geweet dat hulle daar was nie. Die manskappe was vas aan die slaap; nie een het wakker geword nie, want die Here het elkeen van hulle soos ’n klip laat slaap.

13. Dawid het deur die valleitjie gegaan en aan die ander kant op ’n veilige afstand op ’n hoë rots gaan staan.

14. Toe roep hy na die manskappe en na Abner, Ner se seun: “Abner! Antwoord jy dan nie ’n mens nie?”Abner skree toe terug: “Wie’s jy wat so vir die koning staan en skree?”

15. Dawid antwoord hom: “Jy’s mos die beste man in die hele Israel? Hoekom het jy dan nie jou leier, die koning, opgepas nie? Daar het ’n manskap in die kamp ingekom om jou leier, die koning, dood te maak!

16. Jy maak nie mooi nie, Abner! Julle almal verdien die dood oor julle nie julle leier, die Here se gesalfde, oppas nie! Kyk ’n bietjie waar is die spies van die koning en sy waterkruik wat by sy kop was!”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 26