Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 24:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Dawid het daarvandaan vertrek en in die berge by En-Gedi gaan wegkruip.

2. Toe Saul terug is by die huis nadat hy die Filistyne uitgejaag het, het hy gehoor Dawid is in die En-Gediwoestyn.

3. Saul het met drie afdelings van die heel beste manskappe van Israel gegaan om Dawid en sy manne by die kranse van die Klipbokrotse te gaan soek.

4. Op pad daarheen het hulle by skaapkrale uitgekom waar daar ’n grot is. Saul het in die grot ingegaan om ’n draai te loop. Dawid en sy manne was al die tyd agter in die grot!

5. “Vandag is die dag!” sê Dawid se manne vir hom. “Die Here het mos vir jou gesê: ‘Ek gaan jou vyand aan jou oorgee en jy kan met hom maak wat jy wil.’”Dawid het opgestaan en stilletjies ’n stuk van Saul se mantel afgesny.

6. Maar nadat hy dit gedoen het, het hy sleg gevoel daaroor.

7. Hy sê toe vir sy manne: “Die Here bewaar my daarvan dat ek so ver sou gaan om my hand op te lig teen my koning, die man wat die Here vir Hom gekies het. Hy is tog die Here se gesalfde!”

8. Dawid het baie ernstig met sy manne gepraat. Hy het hulle nie toegelaat om enigiets aan Saul te doen nie. Toe Saul opstaan en uit die grot uitgaan,

9. het Dawid agter hom aangegaan. Hy het na Saul geroep: “U Majesteit!”Toe Saul omkyk, gaan staan Dawid op sy knieë en buig met sy gesig teen die grond.

10. Hy sê vir Saul: “Hoekom luister u na mense wat sê ek wil u uit die pad kry?

11. U besef tog self dat die Here u vandag hier in die grot aan my oorgegee het. My manne het gesê ek moet u doodmaak, maar ek het u jammer gekry en gesê ek sal nie my hand lig teen my koning nie, want hy is die Here se gesalfde.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 24