Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 23:5-18 Die Boodskap (DB)

5. Dawid en sy manne is toe na Keïla toe. Hulle het teen die Filistyne geveg, hulle vee afgeneem en baie van hulle doodgemaak. So het Dawid die mense van Keïla gered.

6-9. Saul het gehoor Dawid het na Keïla toe gegaan. Hy het gedink: “God het hom om die bos gelei en hy is nou in my mag. Hy is vasgekeer in ’n dorp met deure en sluitbalke.”Saul het toe al die burgers opgeroep vir oorlog. Hulle moes na Keïla toe gaan en Dawid en sy manne in die dorp vaskeer. Toe Dawid hoor wat Saul se plan met hom is, het hy vir priester Abjatar gesê: “Bring die priestersak waarmee jy uitvind wat die Here sê.” (Abjatar, Agimelek se seun, het die priestersak saamgevat toe hy na Dawid toe gevlug het in Keïla.)

10. Dawid sê toe: “Here, God van Israel, hierdie dienaar van u het sonder twyfel gehoor dat Saul van plan is om na Keïla toe te kom en die dorp uit te wis omdat ek hier is.

11. Sal die burgers van Keïla my aan Saul oorgee? Sal Saul hierheen kom, soos ek gehoor het? Here, God van Israel, sê my asseblief wat gaan gebeur!”Die Here het geantwoord: “Ja, Saul gaan hierheen kom.”

12. Dawid vra toe weer: “En sal die leiers van Keïla my en my manne aan Saul oorgee?”“Ja, hulle gaan julle oorgee,” antwoord die Here.

13. Dawid en sy manne, omtrent 600 van hulle, het gereedgemaak en padgegee uit Keïla en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid uit Keïla weggekom het, het hy nie na die dorp opgetrek nie.

14. Dawid het in veilige plekke in die veld en in die berge van die Sifwoestyn gaan bly. Saul het dae lank na hom gesoek, maar God het nie vir Dawid aan hom oorgegee nie.

15. Dawid het gesien dat Saul daarop uit was om hom dood te maak.Toe Dawid in die Sifwoestyn in Goresa was,

16. het Jonatan, Saul se seun, na hom toe gekom. Jonatan het vir Dawid gesê om sterk te wees en op God te vertrou.

17. Hy het gesê: “Moenie bang wees nie. My pa sal jou nie in die hande kry nie. Jý is die een wat koning oor Israel gaan word. Ek sal onder jou wees. My pa weet dit sal so wees.”

18. Hulle twee het by ’n altaar van die Here ’n ooreenkoms met mekaar gemaak. Jonatan is daarna huis toe, maar Dawid het in Goresa gebly.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 23