Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 16:4-15 Die Boodskap (DB)

4. Samuel het gemaak soos die Here vir hom gesê het. Toe hy in Betlehem aankom, het die mense geskrik en die leiers van die dorp het na hom toe gekom en gevra: “Kom u omdat hier ’n probleem is?”

5. “Nee, daar’s nie ’n probleem nie,” sê hy. “Ek het net vir die Here kom offer. Was julle en trek skoon klere aan, dan kan julle saam met my van die offervleis eet.”Hy het ook vir Isai en sy seuns gesê om dit te doen en hulle na die ete by die offer genooi.

6. Toe Isai en sy seuns inkom, sien Samuel vir Eliab raak en dink: “Dís die man wat die Here wil laat salf.”

7. Maar die Here sê vir Samuel: “Moenie kyk hoe hy lyk of hoe groot hy is nie. Ek wil hom nie hê nie. Dis nie wat ’n mens kan sien wat tel nie. Mense kyk na iemand se buitekant. Ek, die Here, kyk na ’n mens se hart.”

8. Isai roep toe vir Abinadab en stel hom aan Samuel voor. Samuel dink toe: “Die Here het seker ook nie hierdie een gekies nie.”

9. Daarna stel Isai vir Samma aan hom voor, en Samuel dink: “Die Here het ook nie hierdie een gekies nie.”

10. So het Isai sewe van sy seuns aan Samuel voorgestel. Maar Samuel sê vir hom: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.

11. Is dit al jou kinders?”Isai antwoord hom: “Die jongste seun is nie hier nie, want hy pas die skape op.”“Laat hom ook kom,” sê Samuel vir Isai, “want ons gaan nie eet voor hy ook hier is nie.”

12. Isai het hom laat haal. Hy was ’n mooi kind met ’n seunsgesig en mooi oë. Toe sê die Here: “Dis hy! Staan op en salf hom.”

13. Samuel het die horing met olyfolie gevat en dit daar voor sy broers op Dawid se kop uitgegooi. Van daardie dag af het die Here se Gees in Dawid gewerk.Samuel het teruggegaan Rama toe.

14. Die Gees van die Here was nie meer by Saul nie. Saul het partykeer verskriklik bang geword, want die Here het toegelaat dat ’n slegte gees hom beetpak.

15. Saul se mense wat in die paleis werk, het vir hom gesê: “Ons weet wat die probleem is: u kry die aanvalle omdat ’n bose gees u beetpak.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 16