Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 4:25-34 Die Boodskap (DB)

25. So lank as wat Salomo geleef het, het dit met die mense van Juda en Israel baie goed gegaan. Dit was ’n tyd van groot voorspoed en vrede. Elke familie het op sy eie grond gewoon en sy eie wingerde en vyebome gehad.

26. Salomo het 40 000 stalle vir die perde van sy strydwaens gebou en 12 000 vir sy ryperde.

27. Elkeen van Salomo se twaalf streeksbestuurders het ’n beurt gekry om ’n maand lank kos aan die koning en al sy baie amptenare te voorsien.

28. Streeksbestuurders moes ook vir die ryperde en trekperde se gars en hooi sorg. Hulle moes dit daar gaan aflaai waar die mense dit nodig gehad het.

29. Die Here het Salomo gehelp om goed te regeer en om die land met wysheid te bestuur. Sy kennis van landsake het geen gelyke in die wêreld gehad nie.

30. Salomo was slimmer en wyser as al die slimkoppe van die Ooste of Egipte.

31. Hy was selfs slimmer as Etan die Esragiet, asook Heman, Kalkol en Darda, die seuns van Magol. Al die omliggende lande het van Salomo se wysheid gehoor en hy het al hoe bekender geword.

32. Hy het meer as 3 000 spreuke gemaak en 1  005 liedere gekomponeer.

33. Hy het gedigte oor bome en plante gemaak en oor alles geskryf, van die seders van die Libanon tot die hisop wat op die mure groei. Oor diere, voëls, reptiele en visse het hy graag gepraat.

34. Oor die hele wêreld het mense van Salomo se wysheid gehoor en hulle het kom luister. Konings oor die hele wêreld het vir hom geskenke gestuur.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 4