Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:8-23 Die Boodskap (DB)

8. “Ja, daar is nog een,” het Agab gesê. “Hy is Miga die seun van Jimla. Ek hou niks van die vent nie, want hy profeteer nooit iets goeds vir my nie. Hy sê altyd net slegte dinge.” “Die koning moenie so praat nie,” het Josafat gesê. “Laat ons na hom luister.”

9. Agab het toe een van sy amptenare gestuur om Miga te gaan haal.

10. Almal is toe na ’n dorsvloer net buite Samaria. Albei konings het op hulle troon gesit en albei het hulle koninklike klere aangehad. Al die profete was in profetiese ekstase.

11. Een van hulle, Sedekia die seun van Kenaäna, het sulke ysterhorings gehad en hy het vir Agab gesê: “Die Here sê u sal soos hierdie ysterhorings die Arameërs verpletter.”

12. Al die ander profete het saamgestem: “Trek maar op teen Ramot in Gilead, want u sal die oorlog wen. Die Here sal beslis die stad in u hand gee.”

13. Die amptenaar wat Miga gaan haal het, sê toe vir hom: “Miga, al die ander profete het ’n groot oorwinning vir die koning voorspel. Jy moet tog ook dieselfde sê.”

14. Miga het egter geantwoord: “So seker as die Here leef, ek sal net vir die koning sê wat die Here vir my gesê het.”

15. Hulle het Miga na die koning toe gebring. Agab het vir hom gevra: “Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg of nie?” “Gaan maar,” het Miga gesê. “Die Here sal Ramot in u hand gee.”

16. Agab het skerp geantwoord: “Luister hier, Miga, hoeveel keer moet ek vir jou sê om die waarheid in die Naam van die Here te praat?”

17. “Goed dan,” het Miga gesê. “Ek sien Israel oral op die heuwels rondloop. Hulle is soos skape sonder ’n herder. Die Here sê dat hulle nie ’n koning het nie. Laat hulle maar in vrede huis toe gaan.”

18. Agab het toe vir Josafat gesê: “Dit is net soos ek gesê het. Hierdie man voorspel nooit vir my iets goeds nie. Hy sê net altyd slegte dinge.”

19. Miga het voortgegaan en gesê: “Hoor wat sê die Here verder: Ek het die Here in die hemel op sy troon sien sit. Rondom Hom was hemelwesens.

20. Toe het die Here gevra: ‘Wie sal Agab gaan mislei sodat hy teen Ramot in Gilead sal optrek om daar doodgemaak te word?’ En die hemelwesens het onder mekaar gepraat.

21. Een van hulle het toe vir die Here gesê: ‘Ek sal gaan en Agab mislei.’

22. ‘Hoe sal jy dit doen?’ het die Here gevra. ‘Ek sal maak dat al Agab se profete leuens vertel.’ ‘Goed dan,’ het die Here gesê. ‘Gaan mislei hom. En doen dit deeglik.’”

23. Miga het nog ’n laaste woord vir die koning gesê: “Sien u, alles het toe so gebeur. Die Here het gemaak dat al hierdie profete vir u gelieg het. En dit terwyl die Here u ondergang beplan.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22