Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 16:7-23 Die Boodskap (DB)

7. Die profeet Jehu het vir Baesa van die Here se planne met hom en sy familie vertel. Baesa se sonde het die Here kwaad gemaak. Hy het dieselfde pad as Jerobeam geloop. Boonop het hy Jerobeam se familie op ’n wrede manier vermoor. Baesa en sy familie sou ook uitgewis word.

8. In die 26ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Ela die seun van Baesa koning van Israel geword. Hy het in Tirsa gebly en twee jaar daar regeer.

9. Simri, ’n senior offisier en die hoof van ’n groot deel van die oorlogswaens, wou Ela uit die weg ruim. Hy het net vir die regte oomblik gewag. Op ’n dag was Ela in die huis van Arsa, die hoof van die paleis. Ela het te veel gedrink en was dronk.

10. Simri het toe by die huis ingebars en Ela op die plek vermoor. So het Simri koning van Israel geword. Dit het gebeur in die 27ste jaar van koning Asa van Juda se regering.

11. Simri het onmiddellik Baesa se hele familie begin uitmoor. Al die mans, asook hulle vriende, is uitgewis.

12. Dit het gebeur presies soos die Here dit deur die profeet Jehu gesê het. Simri het gesorg dat die hele Baesafamilie doodgemaak word.

13. Baesa en sy seun Ela se talle afgode was ’n groot skande voor die Here, die God van Israel. En hulle het Israel ook verlei om ander gode te aanbid.

14. Alles wat Ela gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings opgeteken.

15. In die 27ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Simri koning van Israel geword. Hy het in Tirsa gewoon en het net sewe dae daar regeer.

16. Terwyl Israel se troepe onder leiding van Omri die stad Gibbeton in die Filistynse gebied beleër het, het hulle van Simri se optrede gehoor. Hulle kon nie glo dat Simri nou koning was nie en het sommer daar op die plek vir Omri koning van Israel gemaak.

17. Omri en die troepe is onmiddellik daar weg en het Tirsa gaan beleër.

18. Toe Simri sien hy gaan die stryd verloor, het hy hom in die binneste deel van die paleis gaan toesluit en die gebou aan die brand gesteek. Hy het in die vuur doodgebrand.

19. Simri het ’n wrede dood gesterf en ’n verskriklike prys vir sy sondes betaal. Soos Jerobeam het hy met al sy afgode die Here oneer aangedoen. Hy het Israel ook baie verkeerde dinge laat doen.

20. Meer inligting oor al Simri se optrede, asook sy sameswering teen Ela, kan in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings nageslaan word.

21. Die mense van Israel was verdeel. Die helfte wou Tibni, die seun van Ginat, hierna as koning hê, terwyl ander sterk ten gunste van Omri was.

22. Gaandeweg het die Omrigroep sterker geword en na Tibni se skielike dood het Omri koning van die hele Israel geword.

23. In die 31ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Omri koning van die hele Israel geword. Hy het ses jaar in Tirsa regeer, maar hy was altesaam twaalf jaar lank koning van Israel.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 16