Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14:7-20 Die Boodskap (DB)

7. Gaan vertel vir Jerobeam wat die Here vir hom sê: ‘Van almal het Ek jou gekies. Ek het jou koning van Israel gemaak.

8. Ek het die grootste deel van Dawid se koninkryk gevat en vir jou gegee. Tog is jy nie ’n man soos Dawid nie. Hy het My liefgehad en my wil met oorgawe gedoen.

9. Maar jy het erger dinge gedoen as enigiemand voor jou. Jy het die rug vir My gedraai. Daarom het jy My verneder deur beelde van ander gode te maak.

10. Met jou en jou familie gaan daar iets verskrikliks gebeur. Alle mans, oud en jonk, sal uitgewis word. Ek sal Jerobeam se familie wegvee soos ’n mens gemors wegvee.

11. Dié wat in die stad sterf, sal deur honde verskeur word en dié wat in die veld doodgaan, sal deur die voëls opgevreet word. Alles sal gebeur omdat Ek dit sê.”’

12. Agija het toe vir Jerobeam se vrou gesê: “U moet onmiddellik huis toe gaan. Sodra u die stad binnegaan, sal u seun sterf.

13. Almal sal hartseer wees en oor u seun rou. Die Here het net in hom iets goeds gevind, en daarom sal hy ook die enigste van Jerobeam se kinders wees wat ooit in ’n familiegraf begrawe sal word.

14. “Die Here gaan iemand anders as koning aanstel en hy sal Jerobeam se koningskap beëindig.

15. Die Here gaan Israel so slaan dat hulle sal bewe soos ’n riet in ’n waterstroom. Dan sal Hy Israel wegvat van hierdie goeie grond wat Hy lank gelede aan hulle voorvaders gegee het. Hy sal hulle na ’n ver land anderkant die Eufraatrivier wegvoer. Alles sal presies so gebeur omdat hulle die Here verneder het deur beelde van Asjera te maak.

16. Omdat Jerobeam sy mense verkeerde dinge laat doen het, sal die Here die rug vir Israel draai.”

17. Jerobeam se vrou het na Tirsa toe teruggegaan. Net toe sy by die paleis instap, het haar kind gesterf.

18. Soos die Here deur Agija gesê het, het die volk hom begrawe en oor die seun gerou.

19. Alles oor Jerobeam se regering en sy oorloë is opgeteken in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings.

20. Jerobeam het 22 jaar regeer. Hy het gesterf en is by sy familie begrawe. Sy seun Nadab het hom opgevolg.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 14