Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14:13-24 Die Boodskap (DB)

13. Almal sal hartseer wees en oor u seun rou. Die Here het net in hom iets goeds gevind, en daarom sal hy ook die enigste van Jerobeam se kinders wees wat ooit in ’n familiegraf begrawe sal word.

14. “Die Here gaan iemand anders as koning aanstel en hy sal Jerobeam se koningskap beëindig.

15. Die Here gaan Israel so slaan dat hulle sal bewe soos ’n riet in ’n waterstroom. Dan sal Hy Israel wegvat van hierdie goeie grond wat Hy lank gelede aan hulle voorvaders gegee het. Hy sal hulle na ’n ver land anderkant die Eufraatrivier wegvoer. Alles sal presies so gebeur omdat hulle die Here verneder het deur beelde van Asjera te maak.

16. Omdat Jerobeam sy mense verkeerde dinge laat doen het, sal die Here die rug vir Israel draai.”

17. Jerobeam se vrou het na Tirsa toe teruggegaan. Net toe sy by die paleis instap, het haar kind gesterf.

18. Soos die Here deur Agija gesê het, het die volk hom begrawe en oor die seun gerou.

19. Alles oor Jerobeam se regering en sy oorloë is opgeteken in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings.

20. Jerobeam het 22 jaar regeer. Hy het gesterf en is by sy familie begrawe. Sy seun Nadab het hom opgevolg.

21. Rehabeam die seun van Salomo was 41 toe hy koning geword het en hy het sewentien jaar lank in Jerusalem regeer. Dit is die stad wat die Here gekies het om in te woon en aanbid te word. Rehabeam se ma, Naäma, was ’n vrou uit Ammon.

22. Juda het die Here diep teleurgestel. Hulle ongehoorsaamheid was vir Hom ’n groot skande. Hulle was erger as enige geslag voor hulle.

23. Hulle het op baie hoë plekke in die berge altare gebou en klippilare en beelde van die godin Asjera daar opgerig. Hulle het onder elke groen boom saamgekom en offers vir ander gode gebring.

24. Daar was selfs prostitute by daardie offerplekke. Die mense van Juda het presies gedoen soos daardie volke wat die Here destyds uit Kanaän verdryf het sodat Israel in die land kon woon.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 14