Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 12:19-25 Die Boodskap (DB)

19. Van daardie dag af wou Israel niks meer met die koningshuis van Dawid in Jerusalem te make hê nie.

20. Nadat Jerobeam se terugkeer uit Egipte oral bekend geword het, het die mense hom na ’n groot volksbyeenkoms uitgenooi. Daar het hulle hom toe voor almal koning gemaak. So het Jerobeam die nuwe koning van Israel geword. In die suide het net die stam van Juda nog aan die huis van Dawid behoort.

21. Rehabeam was woedend. Hy wou sy verlore koninkryk met alle geweld herwin. Terug in Jerusalem het hy 180 000 jong soldate uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep.

22. Maar die Here het vir die profeet Semaja gesê:

23. “Gaan na Rehabeam, die seun van Salomo en die koning van Juda, en na die twee stamme Juda en Benjamin toe en sê vir hulle:

24. ‘Moenie teen julle broers in die noorde gaan veg nie. Gaan liewer terug, want alles het volgens my wil gebeur.’” Al die manskappe het net daar omgedraai en teruggegaan huis toe.

25. Jerobeam het Sigem op die Efraimsberg herbou en daar gaan bly. Na ’n ruk is hy daar weg en het in Penuël gaan bly.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 12