Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 11:4-21 Die Boodskap (DB)

4. Teen die tyd dat hy ’n ou man was, het hy lankal reeds ’n spul vreemde gode aanbid. Salomo het toe nie meer die Here so liefgehad soos sy pa, Dawid, nie.

5. Hy het selfs vir Astarte, die godin van Sidon, en vir Milkom, die aaklige god van Ammon, aanbid.

6. Salomo het teen die Here gesondig. Hy was nie so getrou aan die Here soos sy pa, Dawid, nie.

7. Op die berg oos van Jerusalem het hy ’n plek gebou waar Kemos, die verskriklike god van Moab, en Milkom, daardie aaklige god van Ammon, aanbid kon word.

8. Hy het ook plekke gebou waar sy buitelandse vroue vir hulle gode offers kon bring en wierook kon brand.

9. Die Here was diep teleurgesteld in Salomo en het kwaad geword vir hom. Alhoewel die Here twee keer aan Salomo verskyn het, het hy die Here nie meer liefgehad nie.

10. Salomo was glad nie meer in die Here geïnteresseerd nie; hy het sy hart vir die ander gode gegee.

11. Die Here was seergemaak en kwaad vir Salomo. Hy het toe vir hom gesê: “Jy het doelbewus jou verhouding met My verbreek. Jy wil nie meer my gebooie gehoorsaam nie. Ek gaan daarom jou hele koninkryk van jou af wegneem en dit vir een van jou amptenare gee.

12. Ter wille van jou pa, Dawid, sal ek dit nie nou doen terwyl jy nog leef nie. Dit sal gebeur wanneer jou seun begin regeer.

13. Ek sal egter nie die hele koninkryk wegneem nie. Ek sal een stam, die stam van Juda, ter wille van Dawid en ter wille van Jerusalem, waarin Ek aanbid word, laat oorbly.”

14. Deur die Here se toedoen het Hadad teen Salomo in opstand gekom. Hadad was deel van die koningshuis in Edom.

15. Lank gelede, toe Dawid Edom oorwin het, het Joab, die hoof van sy leërmag, daarheen gegaan en al die mans doodgemaak en begrawe.

16. Joab en die hele Israel het ses maande lank ’n guerrilla-oorlog teen Edom gevoer en hulle weermag vernietig.

17. Hadad en ’n klompie van sy pa se werkers het egter daarin geslaag om na Egipte te ontsnap. Hadad was in daardie stadium nog maar ’n kind.

18. Hulle het deur Midian by Paran aangekom. Daar het ander mense ook by hulle aangesluit en hulle is saam daar weg. Toe hulle in Egipte aankom, is hulle reguit na die koning toe. Die koning het vir Hadad ’n stuk grond met ’n huis gegee en hom van kos voorsien.

19. Hadad en die koning het goeie vriende geword. Die koning het selfs sy skoonsuster, die suster van koningin Tagpenes, vir Hadad as vrou gegee.

20. Sy het vir Hadad ’n seun gegee wat hy Genubat genoem het. Genubat is deur die koningin grootgemaak en het net soos die ander seuns van die koning geleef.

21. Toe Hadad hoor dat Dawid en Joab albei dood is, het hy vir die koning gesê: “Laat my asseblief na my land teruggaan.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 11