Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 11:33-43 Die Boodskap (DB)

33. Ek doen al hierdie dinge omdat Salomo My nie meer liefhet nie. Hy het ander gode begin aanbid. Gode soos Astarte die godin van Sidon, Kemos die god van Moab en Milkom die god van Ammon. Salomo het nie meer na My geluister nie. Hy het nie soos sy pa, Dawid, volgens my wil geleef nie.

34. Terwyl Salomo nog leef, gaan daar niks gebeur nie. Sy koninkryk sal nie tydens sy regering verdeel word nie. Ek doen dit ter wille van Dawid wat Ek gekies het, wat vir My lief was en wat na my gebooie en wette geluister het.

35. Na Salomo se dood sal Ek die koninkryk van sy seun Rehabeam verdeel en tien stamme vir jou gee.

36. Een stam sal nog oorbly en Salomo se nageslag sal daaroor regeer. Soos Ek belowe het, sal daar altyd een van Dawid se nageslag in Jerusalem regeer. Jerusalem is die stad wat Ek gekies het en dit is die plek waar Ek aanbid word.

37. “‘Jerobeam, Ek sal jou die koning van Israel maak en jy sal oor die hele gebied van die tien stamme regeer.

38. As jy mooi na My luister en volgens my wil leef, sal dit met jou goed gaan. As jy ’n koning soos Dawid is, sal Ek altyd naby aan jou wees. Ek sal jou koningskap voorspoedig maak en Ek sal sorg dat iemand uit jou nageslag altyd oor Israel regeer. Ek sal vir jou doen wat Ek vir Dawid gedoen het.

39. Salomo se lewe het begin skeefloop en daarom gaan Ek die nageslag van Dawid straf. Ek sal egter nie vir altyd vir hulle kwaad bly nie.’”

40. Toe Salomo hoor wat met Jerobeam gebeur het, wou hy hom net daar doodmaak. Maar Jerobeam het na koning Sisak van Egipte toe gevlug. Daar het hy gebly totdat hy gehoor het Salomo is dood.

41. Hulle het toe Salomo se hele lewensgeskiedenis beskryf. Besonderhede oor sy lewe, sy wysheid en alles wat hy gedoen het, is in ’n boek Die lewe en werk van Salomo opgeteken.

42. Hy het 40 jaar lank in Jerusalem as koning regeer.

43. Salomo is dood en is in Jerusalem, die stad van Dawid, begrawe. Sy seun Rehabeam het hom opgevolg.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 11