Ou Testament

Nuwe Testament

Titus 3:7-15 Die Boodskap (DB)

7. Omdat Hy so goed is vir ons, het Hy al ons sondes afgeskryf. Dit tel nie meer teen ons nie. Ons is nou God se erfgename. Ons erfporsie is die ewige lewe. Ons is volspoed onderweg daarheen.

8. Wat ek nou vir jou gesê het, is die waarheid. Ek wil hê jy moet dit met groot oortuiging vir die gelowiges gaan oorvertel. Hulle moet mooi begryp wat God alles vir ons gedoen het. Dit sal hulle aanspoor om reg te leef. As hulle hierdie goeie nuus verstaan, sal hulle goeie dinge vir ander mense doen. Hulle sal ander begin dien en op die hande dra.

9. Titus, nog ’n stukkie persoonlike raad aan jou: moenie in argumente betrokke raak met ander mense wat probeer om ons geloof belaglik te maak nie. Vermy ook ’n stryery met diegene wat sê dat net ware Israeliete deur God gered sal word as hulle oor die nodige geslagsregisters beskik om dit te bewys. Moet ook nie jou tyd mors om met ander te stry oor hoe ons die wet van Moses moet probeer hou nie. Al hierdie gesprekke en argumente help net mooi niks nie. Dis ’n mors van kosbare tyd.

10. Loop lig vir daardie mense wat moeilikheid maak. Sê vir hulle om op te hou daarmee. As dit nie help nie, gaan probeer ’n tweede keer. Maar daarna moet jy hulle uitlos.

11. Dan weet jy dat hulle hulle nie aan God steur nie. Hulle eie sondes sal op die ou end teen hulle tel.

12. Titus, ek sal binnekort vir Artemas, of dalk vir Tigikus, na jou toe stuur om jou te kom help. Sodra een van hulle daar is, moet jy asseblief vir my kom kuier. Ek bly in Nikopolis oor vir die winter. Kom hiernatoe.

13. Daar kom ook twee mans na jou toe oor wie jy jou moet ontferm. Hulle name is Senas, ’n regsgeleerde, en Apollos. Maak jou hart en jou huis vir hulle oop. Kyk dat hulle ’n dak oor hulle kop het en ook iets om te eet.

14. Sê ook vir die gelowiges om self te werk vir hulle eie brood. Deur goeie werk moet hulle in hul eie lewensbehoeftes voorsien. Hulle moet soos bome wees wat goeie vrugte vir die Here dra.

15. Titus, al die gelowiges hier by my stuur vir jou groete. Sê asseblief ook groete aan al die gelowiges daar by jou. God se goedheid bly by julle almal.

Lees volledige hoofstuk Titus 3