Ou Testament

Nuwe Testament

Titus 1:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Van Paulus. Ek is ’n dienskneg van God en ’n apostel van Jesus Christus. God het my aangestel om vir almal wat Hy uitgekies het om sy kinders te wees te vertel hoe om te glo. Ek moet die regte kennis oor die waarheid met hulle deel. Hierdie waarheid verander elkeen wat dit glo in ’n dienaar van God.

2. Dit bring groot sekerheid in hulle harte dat die ewige lewe op hulle wag. Nog lank voordat die wêreld daar was, het God al beloof dat Hy vir almal wat in Hom glo, ’n groot geskenk het: die ewige lewe!

3. Nou, op presies die regte tyd het God hierdie goeie nuus aan my kom bekendmaak. Hy het ook vir my gesê om dit aan ander mense te gaan oorvertel. En wat ’n wonderlike werk is dit nie om te preek dat God ons Verlosser is nie!

4. Titus, hierdie brief is aan jou gerig. Jy is vir my soos my eie kind, want jy glo ook. Ons al twee is nou deel van God se nuwe familie. Die goedheid en vrede van God ons Vader en Christus Jesus, ons Verlosser, is ook by jou.

5. Ek het jou vroeër op die eiland Kreta agtergelaat. Dit was met ’n spesifieke doel. Ek wil hê jy moet sorg dat sake in die verskillende gemeentes reg en goed georganiseer is. Verder moet jy ook in die verskillende dorpe ouderlinge aanstel soos ek vir jou gesê het.

6. ’n Kerkleier se ganse lewe moet wys dat hy die Here ken. Hy moet getrou wees aan sy vrou.Sy kinders moet die Here dien. Hulle moenie van die een wilde partytjie na die ander hardloop en teen hulle ouers opstandig raak nie.

7. Onthou, ’n ouderling staan aan die stuur van God se familie van gelowiges hier op aarde. Sy ganse lewe moet daarom vertel dat hy doen wat die Here sê. Hy moenie vol van homself wees nie, ook nie kort van draad en humeurig nie. Drank mag nooit sy baas wees nie. Hy moenie net regstaan om te stry en baklei nie. Ook mag hy glad nie in skelm saketransaksies betrokke wees nie.

8. Sy huis en hart moet altyd oopstaan vir ander gelowiges, al ken hy hulle nie. Dit moet vir hom ’n groot vreugde wees om goeie dinge vir ander te doen. Hy moet nugter en beheersd wees. In alle omstandighede moet hy reg optree. Hy moet leef soos die Here wil hê. Hy moet homself goed kan beheer sodat die sonde geen houvas op sy lewe kry nie.

Lees volledige hoofstuk Titus 1