Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 6:15-23 Die Boodskap (DB)

15. Beteken dit nou dat ons maar kan sondig omdat ons nie meer die wet hoef te gehoorsaam nie? Kan ons leef soos ons wil omdat God ons uit genade red? Nee, natuurlik nie.

16. Julle weet mos hoe dit gaan: jy dien die een in wie se diens jy staan. Wat ek bedoel, is dit: as jy in die mag van die sonde is, sal jy aanhou sonde doen. Dan is die dood jou voorland. Maar aan die ander kant, as jy God dien, sal jy doen wat Hy sê. Dan wag die ewige lewe op jou.

17. Ek sê vir God dankie dat Hy julle, wat julle hele lewe lank vir die sonde gewerk het, heeltemal vrygemaak het. Dit is hoekom julle nou luister na alles wat Hy deur die apostels en sy ander dienaars vir julle leer.

18. Julle is nie meer slawe van die sonde nie. Nee, julle is nou God se slawe. Nou kan julle leef soos Hy dit wil hê.

19. Verskoon maar dat ek so ’n alledaagse beeld gebruik. Dalk help dit julle om te begryp wat ek sê. Vroeër het julle julle oorgegee aan al wat sonde is. Met groot oorgawe het julle alles gedoen wat boos en sleg is. Nou moet julle met dieselfde oorgawe doen wat reg is. Leef soos mense wat eenkant geplaas is om God voltyds te dien.

20. Vroeër was julle verslaaf aan die sonde. Julle kon eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie.

21. Dink ’n bietjie: Was dit die moeite werd om so in die sonde rond te lê? Wat het dit julle in die sak gebring? Net mooi niks nie! Kry julle nie skaam as julle terugdink aan wat julle alles aangevang het nie? Om in sonde te leef is niks anders as ’n doodloopstraat nie.

22. Gelukkig het God julle hier kom uithaal. Julle is nou voltyds in sy diens. Hy verander julle lewens nou al hoe meer tot sy eer. Boonop wag daar ’n wonderlike toekoms op julle. Die dood is nie meer julle voorland nie. Nee, julle gaan vir altyd in God se splinternuwe wêreld bly.

23. Ek sê weer: as ’n mens jou hele lewe lank vir die sonde werk, is die dood jou beloning. So eenvoudig is dit. God gee egter aan ons die ewige lewe verniet. Dit is sy geskenk aan ons wanneer ons in Christus Jesus as ons Here glo.

Lees volledige hoofstuk Romeine 6