Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 5:12-21 Die Boodskap (DB)

12. Dit is net een mens se skuld dat hierdie wêreld in so ’n groot gemors is: Adam. Dit is hy wat die sonde en die dood in die wêreld ingebring het. Omdat hy nie na God wou luister nie, het hy die hele wêreld saam met hom in die sonde en die dood ingesleep. Daarom is ons almal nou sondaars.

13. Nog voordat God sy wet aan Moses gegee het, was daar al sonde in die wêreld. Dit was nog net nie so duidelik uitgespel nie.

14. Tog heers die dood van Adam se tyd af oor alles en almal. Al die mense wat ná Adam geleef het, het ook doodgegaan, al het hulle nie presies dieselfde sondes as hy gedoen nie. Maar Adam wys ook vooruit na die Een wat ons uit die greep van sonde kom bevry het.

15. Tog kan Adam se sonde en Christus se verlossing nie in dieselfde asem genoem word nie. As slegs een persoon se sonde in staat was om miljoene mense in die dood te dompel, dink net wat God kan regkry deur een Man, Jesus Christus. Omdat God so baie vir ons omgee, het Hy hierdie Man na ons toe gestuur om ons vry te kom maak. Jesus Christus is die sigbare bewys van God se ongelooflike goedheid.

16. Daar is eintlik geen vergelyking tussen Adam se doodsonde en God se splinternuwe geskenk aan ons nie. Want God se reaksie op Adam se sonde was kort en kragtig: ’n doodsvonnis vir die ganse wêreld. Maar toe volg daar ’n wonderwerk. In reaksie op ons derduisende oortredings het Hy ons heeltemal verniet kom vryspreek van ons sondes.

17. As dit waar is dat die dood oor die hele wêreld geheers het deur een man se sonde, dink dan net wat een Man se offer tot gevolg sal hê: ’n splinternuwe lewe! Elkeen wat God se oorvloedige goedheid en sy vryspraak deur Jesus Christus ontvang, sal soos ’n koning saam met Hom heers.

18. Een man se sonde het gemaak dat almal skuldig staan voor God se regbank. Maar een daad van gehoorsaamheid van ’n ander Man het gemaak dat almal nou onskuldig by God se hofsaal kan uitstap. Sy gehoorsaamheid bring ware lewe vir ons almal.

19. Anders gesê: een man se ongehoorsaamheid aan God het ons status in ’n oogwink tot dié van sondaars verlaag. Maar ’n ander Man se gehoorsaamheid aan God verander ons status in ’n oogwink tot dié van vrygespreektes.

20. Die wet van Moses het natuurlik ook intussen op die toneel verskyn. Mense kan daarom nie langer loskom met die verskoning dat hulle nie geweet het wat reg en wat verkeerd is nie. Die wet ontmasker nou al hulle sondes omdat dit name daaraan gee. Maar gelukkig het God se genade ook nog baie meer geword.

21. Trouens, daar is geen vergelyking tussen mense se sondes en God se genade nie. Die sonde is soos ’n wrede baas wat oor ons heers en ons uiteindelik doodmaak. Maar God se wonderlike goedheid heers oor ons elkeen wat deur Hom vrygespreek is. Dit is natuurlik net te danke aan Jesus Christus dat ons vir altyd sal lewe. Hy is nou die Here oor ons hele lewe.

Lees volledige hoofstuk Romeine 5