Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 5:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Omdat ons glo, is daar nou vrede tussen God en ons.

2. En dit alles is aan ons Here Jesus Christus te danke. Deur ons geloof het Hy gesorg dat ons nou in ’n splinternuwe verhouding met God staan. Ons leef nou dag vir dag net uit sy goedheid. Daarom is ons baie bly en opgewonde. Want ons weet dat God se nuwe wêreld op ons wag. Daar sal ons sy heerlikheid sien.

3. Al kry ons nou baie swaar, vat dit glad nie ons blydskap weg nie. Allesbehalwe. Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertrou.

4. En wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk Christelike karakter te vorm. En ’n sterk Christelike karakter maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag.

5. Wanneer ons al ons hoop op God stel, sal ons nooit teleurgesteld wees nie. Want Hy vul ons lewens elke dag met sy liefde. Dit doen Hy deur die Heilige Gees wat by ons bly.

6. Christus het op presies die regte tydstip vir ons gesterf. Hy het sy lewe vir ons opgeoffer toe ons nog in die sonde rondgelê het. Dit is totaal ondenkbaar dat Christus bereid was om so iets vir ons te doen.

7. Nie een van ons sal ooit ons lewe vir iemand anders prysgee nie. Ja, miskien nog vir ’n baie goeie vriend of vir die een of ander goeie mens.

8. Maar God is heeltemal anders as ons. Hy wys juis hoe lief Hy ons het deurdat Jesus in ons plek doodgegaan het toe ons almal nog ’n spul sondaars was.

9. As God so ongelooflik goed vir ons is deur ons van ons sondes vry te spreek omdat Christus se bloed in ons plek gevloei het, hoef ons nie meer vir sy oordeel bang te wees nie.

10. Dan sal Jesus ons ook mos help wanneer ons voor God se oordeelstroon moet gaan staan. Sy dood het ons in die regte verhouding met God gebring toe ons nog aartsvyande van Hom was. Hoeveel te meer sal ons dan nie deur die lewende Jesus van die oordeel van God gered word nie?

11. Daar is selfs nog meer rede om fees te vier: ons kan nou al dag vir dag in blydskap voor God leef. Dit is net aan ons Here Jesus Christus te danke. Deur sy dood het Hy gesorg dat ons saak met God reg is.

12. Dit is net een mens se skuld dat hierdie wêreld in so ’n groot gemors is: Adam. Dit is hy wat die sonde en die dood in die wêreld ingebring het. Omdat hy nie na God wou luister nie, het hy die hele wêreld saam met hom in die sonde en die dood ingesleep. Daarom is ons almal nou sondaars.

13. Nog voordat God sy wet aan Moses gegee het, was daar al sonde in die wêreld. Dit was nog net nie so duidelik uitgespel nie.

14. Tog heers die dood van Adam se tyd af oor alles en almal. Al die mense wat ná Adam geleef het, het ook doodgegaan, al het hulle nie presies dieselfde sondes as hy gedoen nie. Maar Adam wys ook vooruit na die Een wat ons uit die greep van sonde kom bevry het.

Lees volledige hoofstuk Romeine 5