Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 4:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Kom ons kyk gou na Abraham, ons almal se pa in die geloof.

2. As hy deur God vrygespreek is omdat hy so verskriklik gehoorsaam was, het hy mos ’n rede gehad om homself op die skouer te klop. Maar God het hom nie oor sy gehoorsaamheid vrygespreek van sy sondes nie.

3. Die Bybel sê immers: “Abraham het in God geglo. Daarom was sy saak met God in orde.”

4. As jy werk, kry jy betaling daarvoor. Jy verdien dit immers omdat jy daarvoor gewerk het.

5. God is egter nie soos ’n eienaar wat werkers beloon wat hard gewerk het nie. ’n Mens kom net in die regte verhouding met God as jy in Hom glo as die Een wat goddelose mense vryspreek. Selfs

6. Dawid sê so. Volgens hom is elkeen wat deur God vrygespreek is sonder dat hulle die wet tot op die letter gehoorsaam, sommer baie bevoorreg.

7. Dawid beskryf dit soos volg: “Gelukkig is almal wie se oortredings vergewe is en wie se sondes skoongevee is.

8. Gelukkig is elkeen van wie se sondes God nie langer boekhou nie.”

9. Dink jy dat hierdie uitspraak net geld vir mense wat besny is, of ook vir mense wat nie besny is nie? Wel, onthou jy dat ons hier bo gesê het dat Abraham vrygespreek is omdat hy geglo het?

10. Wanneer het dit met hom gebeur? Toe hy klaar besny was, of voor die tyd? Ja, natuurlik, nog voordat hy besny is.

11. Eers nadat Abraham begin glo het, het God aan hom die teken van die besnydenis gegee. Die besnydenis was die amptelike bewys van God se kant dat Abraham vrygespreek is deur sy geloof.

12. So het Abraham die geestelike pa geword van almal wat glo sonder dat hulle die teken van die besnydenis aan hulle liggame dra. Hy is die bewys dat God mense vryspreek op grond van hulle geloof. Natuurlik is Abraham ook die geestelike vader van almal wat besny is; dit wil sê, daardie mense wat nie op hierdie uiterlike teken aan hulle liggame staatmaak om hulle te verlos nie, maar wat, net soos Abraham, al hulle vertroue in God stel.

13. Daardie beroemde belofte wat God aan Abraham gemaak het dat sy nageslag die hele wêreld sal bewoon, het hy nie ontvang omdat hy al God se voorskrifte stiptelik nagekom het nie, maar omdat hy geglo het. Dit is hoekom hy in die regte verhouding met God was.

Lees volledige hoofstuk Romeine 4