hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 4 Die Boodskap (DB)

Abraham se geloof het hom gered

1. Kom ons kyk gou na Abraham, ons almal se pa in die geloof.

2. As hy deur God vrygespreek is omdat hy so verskriklik gehoorsaam was, het hy mos ’n rede gehad om homself op die skouer te klop. Maar God het hom nie oor sy gehoorsaamheid vrygespreek van sy sondes nie.

3. Die Bybel sê immers: “Abraham het in God geglo. Daarom was sy saak met God in orde.”

4. As jy werk, kry jy betaling daarvoor. Jy verdien dit immers omdat jy daarvoor gewerk het.

5. God is egter nie soos ’n eienaar wat werkers beloon wat hard gewerk het nie. ’n Mens kom net in die regte verhouding met God as jy in Hom glo as die Een wat goddelose mense vryspreek. Selfs

6. Dawid sê so. Volgens hom is elkeen wat deur God vrygespreek is sonder dat hulle die wet tot op die letter gehoorsaam, sommer baie bevoorreg.

7. Dawid beskryf dit soos volg: “Gelukkig is almal wie se oortredings vergewe is en wie se sondes skoongevee is.

8. Gelukkig is elkeen van wie se sondes God nie langer boekhou nie.”

9. Dink jy dat hierdie uitspraak net geld vir mense wat besny is, of ook vir mense wat nie besny is nie? Wel, onthou jy dat ons hier bo gesê het dat Abraham vrygespreek is omdat hy geglo het?

10. Wanneer het dit met hom gebeur? Toe hy klaar besny was, of voor die tyd? Ja, natuurlik, nog voordat hy besny is.

11. Eers nadat Abraham begin glo het, het God aan hom die teken van die besnydenis gegee. Die besnydenis was die amptelike bewys van God se kant dat Abraham vrygespreek is deur sy geloof.

12. So het Abraham die geestelike pa geword van almal wat glo sonder dat hulle die teken van die besnydenis aan hulle liggame dra. Hy is die bewys dat God mense vryspreek op grond van hulle geloof. Natuurlik is Abraham ook die geestelike vader van almal wat besny is; dit wil sê, daardie mense wat nie op hierdie uiterlike teken aan hulle liggame staatmaak om hulle te verlos nie, maar wat, net soos Abraham, al hulle vertroue in God stel.

Geloof maak God se beloftes waar

13. Daardie beroemde belofte wat God aan Abraham gemaak het dat sy nageslag die hele wêreld sal bewoon, het hy nie ontvang omdat hy al God se voorskrifte stiptelik nagekom het nie, maar omdat hy geglo het. Dit is hoekom hy in die regte verhouding met God was.

14. Dit help mos nie om te glo as mense in elk geval deur hulle gehoorsaamheid aan die wet gered kan word nie. Dan is God se belofte dat Hy elkeen vryspreek wat in Hom glo, net lippetaal.

15. Die wet loop hand aan hand met straf. As daar nie ’n wet was nie, sou ons nie geweet het watter dinge teen God se wil is nie.

16. Daarom is geloof so broodnodig. Geloof bied ’n nuwe pad na God toe. ’n Mens kan nooit jou eie redding verdien nie. Jy kan dit net as ’n geskenk uit God se hand ontvang. Dit is die belofte wat God aan Abraham gemaak het. Hierdie belofte geld vir alle mense op aarde. Abraham is daarom ons almal se pa in die geloof.

17. In die Bybel sê God vir Abraham: “Ek maak jou die pa van baie nasies.” Abraham het hierdie belofte met sy hele lewe geglo. Hy het geweet dat God die onmoontlike kan doen: Hy kan dooies lewendig maak en met ’n enkele woord iets uit niks tot stand bring.

18. Selfs toe alles hopeloos gelyk het, het Abraham geglo dat hy die pa van baie volke sou word. Hy het altyd vasgehou aan die woorde wat God vroeër vir hom gesê het: “Jy sal ’n groot nageslag hê.”

19. Later, toe Abraham al by die 100 jaar oud was, het hy hom glad nie blind gestaar op die feit dat hy nie meer in staat was om kinders te verwek nie. En al was sy vrou Sara al te oud om ’n kind te hê, het hy nie moed opgegee nie.

20. Abraham se geloof was die kragbron van sy lewe. Hy het God se hand styf vasgehou en aangehou om Hom te eer.

21. Abraham het geweet dat God die een of ander tyd sou doen wat Hy belowe het.

22. Daarom dat sy geloof hom in die regte verhouding met God laat leef het.

23. Gelukkig is God se vryspraak nie net vir Abraham bedoel nie.

24. Nee, dis ook vir ons bedoel; vir ons almal wat glo in God wat ons Here Jesus uit die dood laat opstaan het.

25. Jesus is in ons plek vir al ons sondes dood, maar God het Hom weer lewendig gemaak. Daarom is ons elkeen wat in Hom glo se saak met God in orde.