Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 16:17-27 Die Boodskap (DB)

17. Broers en susters, oppas vir daardie mense wat die kerk probeer skeur met hulle vals sienings oor God. Hulle krap almal om omdat hulle dinge sê wat in stryd is met alles wat julle oor God geleer het. Bly uit hulle pad uit.

18. Hierdie mense maak net asof hulle Christene is, maar hulle stel glad nie daarin belang om ons Here Jesus te dien nie. Nee, hulle dien net hulle eie siek begeertes. Hulle gebruik mooi woorde en vleitaal om onskuldige gelowiges deurmekaar te maak.

19. Teen hierdie tyd weet almal al van julle geloof in Christus. Dit maak my hart sommer baie bly. Ek is regtig trots op julle. Hou so aan. Wees verstandig wanneer dit by goeie dade kom. Maar wees dom wanneer dit by sondes kom. Moenie vir die sonde ’n vastrapplek in julle lewens gee nie.

20. Ek het goeie nuus vir julle: ons wonderlike God wat aan ons almal sy vrede gee, gaan Satan binnekort onder julle voete fyn en flenters trap. Tot op daardie dag sal ons Here Jesus Christus met sy goedheid by julle wees.

21. My medewerker in Christus se diens, Timoteus, stuur vir julle groete. So ook my volksgenote Lucius, Jason en Sosipater.

22. Tertius, wat alles neergeskryf het wat ek in hierdie brief sê, stuur ook groete in die Here.

23. Gaius, by wie ek tans bly, en die hele gemeente in Korinte laat weet ook dat hulle aan julle dink. So ook Erastus, die stadsklerk van Korinte, en Kwartus, ’n toegewyde broer in die Here.

25. God besit al die mag. Niemand in die hemel of op die aarde is so sterk soos Hy nie. God sal sorg dat julle in Hom bly glo. Ek weet dit omdat ek die goeie nuus oor Jesus Christus ken.

26. Ek maak dit oral bekend, ook aan julle. Baie eeue lank het mense nie geweet wat God se verlossingsplan is nie, maar nou het Hy dit openlik kom bekendmaak. God het beveel dat dit wat in die profete opgeskryf staan, nou verkondig moet word aan mense wat nie aan die volk van Israel behoort nie. Hy wil hê dat hulle ook in Hom moet glo en doen wat Hy sê.

27. Ons wonderlike God besit al die wysheid en die kennis. Aan Hom, die enigste God, kom al die eer toe, van nou af tot in ewigheid deur Jesus Christus. Amen!

Lees volledige hoofstuk Romeine 16