hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 16 Die Boodskap (DB)

Groete aan spesifieke gelowiges

1. Febe, die dienende leier van die kerk in Kenchreë, een van die hawens van Korinte, is op pad daar na julle toe.

2. Ontvang haar asseblief vriendelik in die Naam van die Here. Maak julle harte en julle huise vir haar oop, soos dit mos by gelowiges pas. Febe het in die verlede al aan baie mense goed gedoen. Sy was selfs ook my weldoener. Daarom vra ek dat julle haar tog asseblief op die hande moet dra.

3. Sê ook groete aan my twee goeie vriende Priscilla en Akwila.

4. Hulle het baie hard saam met my gewerk om die goeie nuus oor Christus Jesus uit te dra. Hulle was selfs bereid om hulle lewens vir my te waag. Natuurlik is ek nie die enigste persoon wat dankbaar is oor alles wat hierdie egpaar doen nie. In al die gemeentes waar mense uit ander volke bymekaarkom, is daar groot waardering vir Priscilla en Akwila.

5. O ja, sê asseblief ook groete aan die gelowiges wat daar in hulle huis in Rome bymekaarkom.Dra my groete oor aan my liewe vriend Epenetus. Weet julle, hy is die heel eerste persoon in die provinsie Asië wat ’n Christen geword het.

6. Groete ook aan Maria. Sy dien julle almal met groot oorgawe.

7. Sê ook vir daardie twee volksgenote van my, Andronikus en Junias, dat ek aan hulle dink. Hulle was vroeër saam met my in die tronk. Die apostels in Jerusalem dink baie van hulle. Hulle is twee gesoute gelowiges wat selfs nog voor my Christene geword het.

8. Sê groete vir Ampliatus, my goeie vriend in Christus,

9. en vir Urbanus, een van my medewerkers in Christus se diens, en vir Stagis, ’n gewaardeerde vriend.

10. Groete ook aan Apelles, ’n toegewyde gelowige, en almal daar in die huis van Aristobulus.

11. Laat weet ook vir Herodion, nog ’n volksgenoot van my, dat ek aan hom dink.

12. Sê asseblief ook groete aan almal in Narsissus se huis wat in die Here glo, asook vir Trifena en Trifosa, twee vroue wat die Here met oorgawe dien. Groete ook aan my goeie vriendin Persis. Sy is ’n toegewyde kind van die Here.

13. Dra ook my goeie wense oor aan Rufus, iemand wie se hele lewe wys dat hy deur die Here uitgekies is. Groete ook aan sy ma. Weet julle, sy is ook vir my soos ’n ma.

14. Sê groete vir Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas en al die ander broers daar by hulle.

15. Groete ook aan Filologus en Julias, asook aan Nereus en sy suster, en aan Olimpas en al die gelowiges daar by hulle.

16. Groet mekaar met groot hartlikheid en liefde, soos dit by gelowiges pas. Al die ander gemeentes van Christus stuur ook groete vir julle.

Doen wat God vra

17. Broers en susters, oppas vir daardie mense wat die kerk probeer skeur met hulle vals sienings oor God. Hulle krap almal om omdat hulle dinge sê wat in stryd is met alles wat julle oor God geleer het. Bly uit hulle pad uit.

18. Hierdie mense maak net asof hulle Christene is, maar hulle stel glad nie daarin belang om ons Here Jesus te dien nie. Nee, hulle dien net hulle eie siek begeertes. Hulle gebruik mooi woorde en vleitaal om onskuldige gelowiges deurmekaar te maak.

19. Teen hierdie tyd weet almal al van julle geloof in Christus. Dit maak my hart sommer baie bly. Ek is regtig trots op julle. Hou so aan. Wees verstandig wanneer dit by goeie dade kom. Maar wees dom wanneer dit by sondes kom. Moenie vir die sonde ’n vastrapplek in julle lewens gee nie.

20. Ek het goeie nuus vir julle: ons wonderlike God wat aan ons almal sy vrede gee, gaan Satan binnekort onder julle voete fyn en flenters trap. Tot op daardie dag sal ons Here Jesus Christus met sy goedheid by julle wees.

21. My medewerker in Christus se diens, Timoteus, stuur vir julle groete. So ook my volksgenote Lucius, Jason en Sosipater.

22. Tertius, wat alles neergeskryf het wat ek in hierdie brief sê, stuur ook groete in die Here.

23. Gaius, by wie ek tans bly, en die hele gemeente in Korinte laat weet ook dat hulle aan julle dink. So ook Erastus, die stadsklerk van Korinte, en Kwartus, ’n toegewyde broer in die Here.

Lof aan God

25. God besit al die mag. Niemand in die hemel of op die aarde is so sterk soos Hy nie. God sal sorg dat julle in Hom bly glo. Ek weet dit omdat ek die goeie nuus oor Jesus Christus ken.

26. Ek maak dit oral bekend, ook aan julle. Baie eeue lank het mense nie geweet wat God se verlossingsplan is nie, maar nou het Hy dit openlik kom bekendmaak. God het beveel dat dit wat in die profete opgeskryf staan, nou verkondig moet word aan mense wat nie aan die volk van Israel behoort nie. Hy wil hê dat hulle ook in Hom moet glo en doen wat Hy sê.

27. Ons wonderlike God besit al die wysheid en die kennis. Aan Hom, die enigste God, kom al die eer toe, van nou af tot in ewigheid deur Jesus Christus. Amen!