Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 11:24-36 Die Boodskap (DB)

24. Daar is tog goeie nuus vir die dooie lote, vir Israeliete wat nie in Christus glo nie. As hulle tot bekering kom, sal hulle dadelik weer in die olyfboom ingeënt word. God het die krag om dit te doen. Hy alleen kan dooie lote weer laat leef. Immers, as God vir jou wat ’n wildeolyftak is, so suksesvol op sy olyfboom kon inent, is dit mos geen probleem vir Hom om daardie olyftakke wat afgebreek is ook weer op die olyfboom in te ent nie.

25. My broers en susters, ek wil hê dat julle goed moet begryp hoe God se plan werk. As julle verkeerd oor Israel oordeel, dink julle kort voor lank dat julle belangriker as hulle is. Daarom wil ek nou ’n paar van God se geheime met julle deel. Wel, julle weet dat baie Israeliete se harte kliphard is, want hulle weier om in God te glo.

26. Maar dit sal ophou wanneer al God se uitverkorenes uit ander volke tot bekering gekom het. Op hierdie manier sal die ganse Israel, alle ware Israeliete, na God toe terugkeer. Dit is soos daar geskryf staan:“Die Redder kom van die berg Sion af. Hy sal Jakob se goddeloosheid verwyder.

27. Dit is my ooreenkoms met hulle: Ek sal hulle sondes vergewe.”

28. Baie Israeliete is vyande van die evangelie. Dit het natuurlik aan julle wat nie Jode is nie die kans gebied om in Jesus te glo. Maar aan die ander kant is hulle nog steeds God se vriende omdat Hy hulle uitgekies het. God bly immers getrou aan sy beloftes aan hulle voorvaders.

29. Hy gaan nooit terug op sy woord nie.

30. Vroeër was julle ook ongehoorsaam aan God. Nou glo julle egter omdat God julle jammer gekry het.

31. Dit het gebeur omdat die Jode die deur van God se genade toegeklap het. In reaksie daarop het God toe aan julle die kans gegee om in Hom te glo. Nou staan die Jode ook voor ’n toe deur. Omdat God julle jammer gekry het, staan hulle nou buite. Dit het egter gebeur sodat hulle ook nou God se ontferming kan beleef.

32. God het ons almal laat voel hoe verskriklik dit is om ver van Hom af te leef. Ons almal is aan die mag van die sonde oorgegee sodat ons kan ervaar hoe wonderlik dit is wanneer God sy genade aan ons almal bewys.

33. Niemand in die hemel of op die aarde het soveel wysheid en insig soos God nie. Wie kan dit waag om God se oordeel te bevraagteken? Wie is in staat om sy optrede te verklaar?

34. Wie ken God se planne? Is daar iemand wat vir Hom kan voorskryf wat om te doen?

35. Is daar iemand wat vir God ’n guns bewys het, sodat Hy iets aan hom moet terugdoen?

36. Van God af kom alles wat bestaan. Hy hou alles in stand. Alles is daar om sy Naam groot te maak. Vir altyd. Ja en amen!

Lees volledige hoofstuk Romeine 11