Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 9:11-21 Die Boodskap (DB)

11. Hulle het ’n leier gehad, die engel van die onderwêreld. Sy Hebreeuse naam was Abaddon - dit beteken: die een wat alles verwoes.

12. Hoe verskriklik is dit nie, nè? Wag maar, daar is nog twee sulke skrikwekkende dinge op pad.

13. Toe weerklink die sesde engel se trompet. Ek hoor toe ’n stem uit die rigting van die vier horings op die vier hoeke van die goue altaar. Die altaar het voor God gestaan.

14. Die stem praat toe met hierdie sesde engel: “Laat daardie vier engele losbreek wat net heeltyd by die groot Eufraatrivier moes bly.”

15. Toe breek die vier engele los, want hulle was reg daarvoor. Hiervoor het hulle gewag. Nou maar waarvoor het hulle gewag? Om ’n derde van die mense van kant te maak.

16. Hulle was nie alleen nie. Hulle het ’n massa soldate op perde gehad. Ek het ook gehoor hoe baie daar was: twee maal 10 000 en dit nog weer met 10 000 vermenigvuldig.

17. Ek kon die perde en hulle ruiters duidelik in ’n gesig voor my sien. Elke ruiter het ysterplate oor sy bors en maag gedra, reg vir oorlog. Die plate het soos vuur gelyk met blou en geel vlekke. Elke perd se kop het gelyk soos dié van ’n leeu wat alles wil verskeur. Vuur met rook en swaelwolke het uit hulle monde geborrel.

18. Alles voor hulle is verskroei, saam met ’n derde van die mense op die aarde.

19. Kyk, hierdie perde het nie met hulle laat speel nie! Hulle was baie sterk. Hulle krag het veral in hulle sterte gelê en in hulle monde wat so vuur spoeg. Hulle sterte was soos slange met die verskriklikste koppe. Waar hulle jou raak pik, is daar ’n gapende wond.

20. Die mense wat hierdie plae oorleef het, het jou werklikwaar niks daaruit geleer nie. Hulle het maar net so verkeerd en sondig bly leef. Hulle het hulle nie aan God gesteur nie en glad nie belanggestel om Hom te begin dien nie. Hulle het maar aangehou om allerhande demone te aanbid. Hulle het vir hulle beelde van goud of brons gemaak. As hulle nie goud of sulke dinge gehad het nie, het hulle dit van klip of hout gemaak. Hierdie dooie beelde wat nie eens kon sien of hoor of praat nie, het hulle dan vurig aanbid.

21. Daar was by hulle geen teken te bespeur dat hulle enige plan het om God te dien nie. Hulle het maar met hulle moord en toordery, hulle swak seksuele gedrag en agterbakse bedrog aangegaan asof niks gebeur het nie.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 9