Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 6:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Ek het toe gestaan en kyk hoe die Lam een van die sewe seëls breek waarmee die boek verseël was. Juis toe hoor ek een van die vier lewende wesens sê: “Kom!” Dit het geklink soos donderweer wat slaan. Ek het gekyk.

2. Sowaar, daar het ’n wit perd aangekom. Die ruiter het ’n oorlogswapen by hom gehad. Iemand het vir hom ’n kroon gegee soos die gewoonte was om vir iemand te gee wat gewen het. Hy het verder gery op ’n pad van oorwinning. Sy doel was om te wen en dit het hy gedoen.

3. Die Lam het toe die tweede seël gebreek. Ek het gehoor hoe die tweede lewende wese sê: “Kom!”

4. ’n Ander perd kom toe daar aan. Dié perd was rooi. Die ruiter is toegelaat om onrus op aarde te veroorsaak. Nêrens was daar meer behoorlik vrede nie. Mense het mekaar eenvoudig uitgewis. Vir dié ruiter is ’n lang swaard gegee om mense in die oorlog mee dood te maak.

5. Toe die Lam die derde seël breek, hoor ek die derde lewende wese sê: “Kom!” Ek het weer rondgekyk. Soos verwag kon word, het daar weer ’n perd aangekom. Dié perd was swart. Die ruiter het ’n skaal vasgehou waarmee kos geweeg is.

6. Ek hoor toe iemand uit die rigting van die vier lewende wesens sê: “’n Ou handjie vol meel vir ’n hele dag se werk of drie hande vol perdekos. Die duur kos soos olie en wyn sal julle nie kan bekostig nie; net die rykes sal!”

7. Met die oopmaak van die vierde seël hoor ek die vierde lewende wese sê: “Kom!”

8. Hierdie keer het ek ’n perd met so ’n vaal doodskleur aangehardloop sien kom. Die ruiter se naam was “Die Dood”. In sy spore het die hel gevolg. Hy is toegelaat om ’n kwart van die aarde onder sy mag te kry. Daar was dit net moord en doodslag. Wie nie met swaarde doodgekap is nie, is van honger dood. Wie nog oorgebly het, is deur verskriklike siektes afgemaai of deur wilde diere verskeur.

9. Die Lam breek toe die vyfde seël oop. Ek het ’n altaar gesien. Daar het mense spesiale geskenke vir God kom gee. Onder die altaar was die siele van mense wat met swaarde doodgekap is. En hoekom is hulle doodgemaak? Omdat hulle aan die boodskap van God vasgehou het en nie bang was om met oortuiging daaroor te praat nie.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 6