Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 3:11-22 Die Boodskap (DB)

11. Ek kom een van die dae na julle toe.

12. Hou vas aan wat julle het sodat niemand julle dalk pootjie op julle pad om geestelike wenners te wees nie. Vir ’n geestelike wenner wag daar ’n groot beloning. Hy sal vir ewig en altyd naby God self wees. In God se huis self sal hy ’n baie belangrike plek hê. Ek sal name op julle skryf om te wys wie julle regtig is en aan wie julle behoort. Die eerste naam is die Naam van my God. Dan sal Ek die naam van die stad van God opskryf. (Hier verwys ek na die nuwe Jerusalem. Dit is uiteindelik God se groot gawe uit die hemel vir ons.) Die derde naam sal my eie Naam wees.

13. Wie kan hoor, laat hom luister na wat die Heilige Gees vir die Christene te sê het.

14. Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Laodisea: Die Een wat waarborg dat dinge sal wees soos dit moet wees, het vir julle ’n boodskap. Wat Hy sê, kan julle maar glo, en alles wat Hy sê of doen, is waar. Dit is soos God dit wil hê. Jesus is die Een wat die skepping van God aan die gang gesit het. Dit is Hy wat nou met julle praat.

15. Julle kan niks vir My wegsteek nie. Ek weet wat julle doen en Ek is glad nie tevrede nie. Julle is nie koud nie, maar ook nie warm nie. Was julle tog maar een van die twee!

16. Nou is julle so tussenin, so louerig. Ek hou niks daarvan nie. Om die waarheid te sê, as julle so aanhou, sal Ek later niks meer met julle te doen wil hê nie.

17. Julle is nogal die mense wat dit waag om te spog. “Kyk hoe ryk is ons,” sê julle. “Kyk hoe gaan ons vooruit. Ons het niks van iemand nodig nie, want kyk net wat het ons alles!”Ai, al hierdie gespog maak dat julle heeltemal blind is vir hoe pateties dit regtig met julle gaan. ’n Mens wil eintlik sommer oor julle aan die huil gaan. Kyk net hoe lyk julle: julle is geestelik brandarm en bankrot. Boonop besef julle dit nie eens nie, want julle is soos blindes.

18. Laat Ek julle goeie raad gee: kom koop geestelike goud by My en kom vind uit hoe dit voel om iets te hê wat regtig die moeite werd is. Kom kry by My behoorlike, geestelike klere en trek dit aan. Dan hoef julle nie meer uit verleentheid te probeer wegsteek dat julle eintlik geestelik kaal is nie. Ek het ook net die regte medisyne om op julle oë te sit sodat julle geestelik weer kan sien wat julle behoort te sien.

19. Mense vir wie Ek regtig omgee, help Ek reg. Ek wys vir hulle wat Ek van hulle verwag. Soms moet Ek hulle op die regte pad hou op maniere wat nie vir hulle lekker is nie. Maar Ek doen dit uit liefde sodat hulle goeie Christene kan bly.Nou toe, Ek praat ook met julle. Sit skouer aan die wiel. Los al die afdraaipaadjies en stap net agter God aan.

20. Kyk mooi na My. Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand dit hoor en die deur oopmaak, sal Ek instap na hom toe. Ons sal saameet soos baie goeie vriende behoort te doen.

21. Die Christen wat hom nie van stryk laat bring nie, maar enduit aanhou, sal voor God ’n ware wenner wees. Ek sal sorg dat hy langs My op die troon sal sit. Ek het alles presies gedoen soos my Vader van My verwag het. Daarom is Ek ’n wenner wat nou langs my Vader op sy troon sit.

22. Wie kan hoor, moet goed luister na wat die Heilige Gees vir al die Christene te sê het.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 3