Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 22:7-16 Die Boodskap (DB)

7. Maak jou reg; Ek kom gou! Enigeen wat die boodskap van God in hierdie boek lees, moet homself baie gelukkig ag!”

8. Ek, Johannes, het al hierdie dinge met my eie ore gehoor en met my eie oë gesien. Toe ek dit gesien en gehoor het, het ek net daar op my knieë neergesak. Daar aan sy voete wou ek die engel wat my alles gewys het, eer en soos God aanbid.

9. “Wag, moenie!” sê die engel toe. “Net soos jy is ek ook net iemand wat God dien. Daar is geen verskil tussen my en jou en al die ander boodskappers van God, al die broers en susters en die mense wat die boodskap van hierdie boek ernstig opneem nie. Ons almal moet dieselfde doen: eer en aanbid God!”

10. Hy sê verder vir my: “Moenie hierdie boek met die boodskap van God geheim hou of iewers wegsteek nie. Die tyd dat dit alles moet gebeur, is voor die deur.

11. Laat die een wat verkeerde dinge doen, maar daarmee aanhou. Die een wat walglik wil wees, moet dit maar wees. Die een wat reg leef, moet so aanhou en die een wat net vir God wil leef, moet so bly leef.”

12. “Kyk, Ek is op pad, Ek kom gou,” sê Christus. “My lys van wie beloon moet word, bring Ek saam. Ek sal elkeen gee wat hy volgens sy optrede verdien.

13. Ek is die Een by wie alles begin en by wie alles ook eindig; die Eerste en die Laaste. Niks bestaan of gebeur buite My om nie.

14. “Hoe gelukkig is die mense wat hulle klere skoon was sodat hulle reg is vir God se groot fees! Hulle sal reguit deur die poorte van die stad kan instap. Die boom wat aan mense lewe gee, sal hulle s’n wees.

15. Mense wat vieslik geleef het, hulle met allerhande geeste en toordery opgehou het, sal buite moet bly. In God se stad is daar nie plek vir hulle nie. Dit geld ook vir die onsedelike mense en mense wat allerhande ander dinge behalwe die ware God aanbid het. Ja, die mense wat hulle rug vir die waarheid gedraai het en van leuens leef, sal nie die binnekant van God se stad sien nie.

16. “Ek, Jesus, het ’n engel as boodskapper gestuur om al hierdie dinge aan die gemeentes van God te vertel. Ek is ’n afstammeling van Dawid; uit sy geslag is Ek gebore. Ek is soos die helder ster wat die nuwe dag aankondig.”

Lees volledige hoofstuk Openbaring 22