Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 19:11-21 Die Boodskap (DB)

11. Toe ek weer sien, vou die hemel voor my oop. In die hemel was daar ’n wit perd met ’n Ruiter. Die Ruiter is die Een wat jou nooit in die steek laat nie. Hy is opreg en eg in alles wat Hy doen en sê. Sy oordeel is ook altyd reg en wanneer Hy oorlog maak, is dit nie onregverdig nie.

12. Sy oë was soos vuurvlamme wat alles sien. Sy kop was vol krone soos heersers dra. Hy het ook ’n Naam gedra wat niemand geken het nie. Net Hy self het geweet wat dit beteken.

13. Sy klere was deurweek met bloed. Mense het van Hom gepraat as die “Woord van God”; die Een deur wie God sy wil bekendmaak.

14. Die soldate van die hemel het op wit perde agter die Ruiter aangery. Hulle het nie oorlogsklere aangehad nie. Hulle het feesklere aangehad. Die klere was van die mooiste fyn, wit materiaal gemaak.

15. Uit die Ruiter se mond het daar ’n vlymskerp swaard gekom. Dit is sy wapen waarmee Hy mense beveg en oorwin. Hy regeer hulle met ’n ysterhand. Hy sorg vir oordeel en straf. Soos iemand wat druiwekorrels stukkend trap, so sal Hy die woede en straf van die almagtige God oor mense laat losbars.

16. Kyk op sy klere en op sy hemp, daar staan sy Naam geskryf: Hy is die Heerser oor almal wat heers; die Heer oor almal wat heer genoem word.

17. My oog val toe op ’n engel wat so helder soos die son is. Hy het oorverdowend hard geskree. Hy het al die voëls geroep wat tussen die bome en wolke rondvlieg: “Kom hier!

18. Kom saam vir die groot ete wat God vir julle voorberei! Kom vier fees op die liggame van regeerders, soldate, mense wat eers baie invloed gehad het. Ja, kom vreet die vleis van ruiters en perde. Of dit nou slawe of vry mense is, klein of groot, kom hou fees op hulle liggame.”

19. Ek sien toe die dier en al die regeerders van hierdie wêreld met hulle soldate saamtrek. Hulle het hulle reggemaak om teen die Ruiter op die perd en sy soldate te veg.

20. Die dier is toe gevang, hy en die een wat voorgee om oor God te praat, maar die hele tyd net lieg. Dit is die een wat al die wonderlike dinge saam met die dier gedoen en mense heeltemal mislei het.

21. Ek praat van al daardie mense wat die merk van die dier op hulle laat maak en wat sy standbeeld aanbid het. Hierdie twee diere is net so lewendig in die see van vlamme gegooi. Die tonge van vuur was met swael gemeng. Die res is afgemaai met die swaard wat uit die mond van die Ruiter kom. Al die voëls het gekom en op hulle vleis geaas.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 19