Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 17:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Een van die sewe engele met die bakke kom praat toe met my: “Kom saam. Ek wil jou gaan wys hoe God die groot en belangrike stad Babilon met haar bose inwoners gaan straf. Ek praat van die stad wat haar rug vir God gedraai het soos ’n onsedelike vrou haar rug vir haar man draai. Dit is die stad wat oor baie water gebou is. In plaas daarvan om aan God getrou te wees,

2. het die stad na die belangrike leiers van die wêreld gevry. Dit het die mense oor die hele wêreld so bedwelm soos te veel wyn ’n mens bedwelm. Net soos die stad het hierdie mense ook nie belanggestel om God te dien nie. Hulle het eerder gedoen wat die stad wou hê.”

3. Die engel vat my toe die woestyn in. Ek was baie bewus van die Heilige Gees by my. Daar in die woestyn sien ek toe ’n beeld van die stad wat lyk soos ’n vrou. Sy het op ’n bloedrooi dier gesit. Die dier was oortrek met die vieslikste vloekwoorde wat God baie lelik beledig het. Die dier het sewe koppe gehad en tien horings. Hy het nogal in die oë van mense baie sterk gelyk.

4. Die vrou was in pers en rooi klere uitgedos. Sy het ook pragtige juwele gedra: dit was alles van goud, pêrels en ander duur edelstene. Geld en rykdom was al wat vir haar belangrik was. In haar hand het sy ’n goue beker vasgehou. Die beker was propvol van haar vieslikhede en vuil onsedelikheid. Vir God was dit walglik.

5. Sy het ook ’n naam gehad wat op haar voorkop geskryf was. Dit het ’n geheime betekenis gehad. Daar het gestaan: “Babilon, die groot en beroemde stad. Die moeder van alle mense wat hulle rug vir God draai en hulle met die vieslikhede van hierdie wêreld besig hou.”

6. Ek het mooi gekyk en gesien dat die vrou dronk was. Ja, sy was dronk van al die bloed van God se mense en die mense wat doodgemaak is omdat hulle Jesus Christus gedien het. My mond het oopgehang toe ek haar sien. Ek kon my oë nie glo nie!

7. Die engel sê toe vir my: “Hoekom is jy so verbaas? Ek sal die geheim vertel van die vrou en die dier met die sewe koppe en tien horings wat haar dra.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 17