Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 16:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Toe hoor ek iemand wat baie hard praat. Die stem het uit God se blyplek gekom en met die sewe engele gepraat: “Weg is julle! Gaan maak die sewe bakke wat vol van die woede en die straf van God is, op die aarde leeg.”

2. Die eerste een trek toe dadelik weg en gaan maak sy bak op die aarde leeg. Dadelik het die vieslikste swere wat jy jou kan voorstel op die mense uitgeslaan. Dit het egter net op daardie mense uitgeslaan wat die merk van die dier gedra en die beeld van die dier soos ’n god aanbid het.

3. Die tweede engel gooi sy bak toe op die see uit. Die water het bloederig geword asof dit uit ’n dooie man uitloop. Alles wat in die see geleef het, is daar en dan dood.

4. Toe volg die derde engel met sy bak. Sy bak se inhoud het op die riviere en fonteine beland. Al die water het in bloed verander.

5. Die engel wat vir water moes sorg, sê toe: “U straf hierdie mense regverdig. Want U was altyd daar en is nog daar. U is die Gans Andere. Niemand is soos U nie! Hierdie slegte mense het die mense wat aan U behoort, doodgemaak.

6. Hulle het die bloed laat vloei van mense wat ander van U vertel het. Daarom gee U juis vir hulle bloed om te drink - dit is hulle verdiende loon!”

7. Uit die rigting van die altaar hoor ek toe: “Ja, Here God. Daar is niks wat U nie kan doen nie en daar is niemand so sterk soos U nie. As U iets besluit, is dit soos dit moet wees. U maak nooit ’n fout met ’n oordeel nie.”

8. Die vierde engel gooi toe sy bak op die son uit. Skielik het lang vuurtonge van die son die mense verskroei. Dit was geweldig warm.

9. Die mense het gevloek en God uitgeskel. Hy is mos die een wat hierdie dinge laat gebeur. Tog het hulle God nie begin dien nie. Hulle wou nie erken dat Hy regtig die belangrikste van almal is nie.

10. Toe kom die vyfde engel aan die beurt. Die inhoud van sy bak het op die troon van die dier beland. Oral waar hy invloed uitgeoefen het, het dit so donker geword dat jy nie jou hand voor jou oë kon sien nie. Buite hulleself van pyn het die mense wat Satan dien hulle tonge gekou.

11. Hulle het die God van die hemel gevloek en sleggesê oor hulle pyn en hulle sere. Tog wou hulle nie ophou om verkeerde dinge te doen nie. Hulle wou nie reg begin lewe soos God dit wil hê nie.

12. Toe slaan die sesde engel toe. Sy bak se inhoud beland op die Eufraatrivier. Dit was ’n groot, magtige rivier, maar elke druppel water het opgedroog. Nou kon die konings uit die ooste sonder moeite deur die rivier kom.

13. Toe sien ek die duiwel, die draak, staan saam met die dier en dié een wat voorgee om almal van God te vertel, maar die hele tyd lieg. Hulle maak hulle monde oop, en daar kruip drie bose geeste uit. Hulle het net soos paddas gelyk.

14. Hierdie geeste het reguit van die duiwel af gekom en vir hom gewerk. Hulle het allerhande dinge gedoen om die mense te beïndruk. Hulle is na al die leiers en konings toe. Hulle het nie een oorgeslaan nie, maar almal omgepraat om saam met hulle te kom oorlog maak teen God. Maar dié dag wanneer hulle God gaan aandurf, sal in die geskiedenis uitstaan as ’n geweldig belangrike dag. Dit gaan God se dag wees, want Hy is sterker as almal saam.

15. (Julle is natuurlik onseker wanneer die dag presies is. Luister wat sê God: “Wees wakker. My koms sal wees soos ’n dief s’n - as mense dit nie verwag nie. Die mense wat wakker en gereed is, sal gelukkig wees. Hulle sal te bly wees dat hulle vir My gewag het. Hulle sal nie rooi in die gesig en skaam uit die bed hoef op te spring omdat hulle nie reg was nie.”)

Lees volledige hoofstuk Openbaring 16