Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 12:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Ek hoor toe iemand wat hard praat sodat almal dit kan hoor: “Nou het God ons gered. Nou het Hy sy krag bewys. Ons God heers oor almal en sy Messias het al die mag.“Kyk net, die een wat gedurig God se kinders oor hulle foute aangekla het, is uit die hemel uitgegooi. Ja, hy het God se mense mos sonder ophou, dag en nag, voor God beskuldig.

11. Hulle het hom behoorlik gewen. Hulle wapens was die bloed van die Lam en die boodskap wat hulle met soveel oortuiging aan ander vertel het. Alles het nie net vir hulle om hulleself gedraai nie. Hulle was bereid om tot die dood toe met hierdie wapens te veg.

12. Daarom moet almal wat in die hemel bly van blydskap oorloop. Maar, o genugtig, arme aarde en arme see! Julle gaan swaarkry! Weet julle hoekom? Die duiwel het na julle toe afgekom. Hy is buite homself van woede. Maar sy tydjie is min en hy weet dit!”

13. Toe die draak tot verhaal kom en agterkom dat hy op die aarde neergegooi is, het hy die vrou verwoed agternagesit. (Dit is die vrou wat die seun gehad het.)

14. God gee toe vir die vrou twee vlerke sodat sy soos ’n groot arend kon vlieg. Sy het toe die woestyn in gevlieg na die plek toe wat spesiaal vir haar reggemaak is. Daar is sy versorg met alles wat sy nodig gehad het so lank as wat sy dit nodig gehad het, en dit was nie te lank nie. Daar was sy buite die bereik van die duiwel.

15. Toe maak die duiwel ’n ander plan. Hy laat uit sy mond ’n geweldige stroom water kom. Soos ’n bruisende rivier is hierdie water agter die vrou aan. Die draak het gehoop om so die vrou te verswelg.

16. Maar die aarde was daar om haar te help. Die aarde het oopgeskeur en die water het in die skeur verdwyn.

17. Dit het die draak nog kwater gemaak. Hy was blind van woede vir die vrou. Hy is toe daar weg en het begin oorlog maak en baklei teen al wat kinders van die vrou is. Hy het dadelik begin oorlog maak teen almal wat gehoorsaam aan God se wil is of wat openlik en met oortuiging van Jesus praat.

18. Die draak het toe by die see op die strand gaan staan.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 12