Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 9:8-15 Die Boodskap (DB)

8. Die mense kon hulle oë byna nie glo nie. Met groot respek het hulle gesê: “Nou het ons regtig gesien hoe wonderlik en groot God is. Kyk, Hy gee tot vir ’n mens mag om sulke ongelooflike dinge te doen.”

9. Van daar af stap Jesus toe verder tot by ’n tolhuis. Dit is die plek waar reisigers se bagasie deur belastinggaarders (hulle is tollenaars genoem) deursoek is. Dan moes hulle op sekere goed belasting betaal. Hierdie mense was baie ongewild onder die Jode. Om die waarheid te sê, die Jode wou nie eens met hulle meng of selfs met hulle gesels nie. Matteus was so ’n tollenaar. Toe Jesus Matteus in die tolhuis sien sit, sê Hy vir hom: “Los al hierdie goed waarmee jy jou so besig hou en kom saam met My!”Matteus het nie een oomblik op hom laat wag nie. Hy het alles net so gelos en saam met Jesus verder gestap.

10. Hulle is van daar af na Matteus se huis toe. Daar gekom, nooi Matteus ’n groot klomp van sy vriende vir aandete. Saam met Jesus en sy dissipels was daar natuurlik ook ’n hele klomp mense met wie die Jode nooit eens saam aan ’n tafel gesien wou wees nie. Daar was nog tollenaars en dan ook mense wat deur die Jode as sogenaamde sondaars uitgeskel is. Dit was mense wat nie die Joodse wet so streng gehou het as wat party gedink het hulle moes nie.

11. Van die Jode wat die wet baie streng gehou het, het Jesus toe saam met al daardie mense aan die tafel sien sit. Dit het hulle laat wonder of Hy dan soos daardie mense wou word, want ’n mens eet mos net saam met goeie vriende. Hulle het by sy dissipels probeer uitvis: “Wat is Jesus besig om te doen? Wat leer hy julle? Waarom is hy so vriendelik met hierdie slegte mense dat hy selfs saam met hulle eet?” Hulle het die dissipels met vrae gepeper.

12. Jesus hoor dit toe en vra: “Wat dink julle moet ’n dokter doen? Moet hy heeltyd die gesonde mense oppas? Of is sy plek by die siek mense vir wie hy iets kan beteken?

13. Die antwoord op hierdie vraag sal julle help om God se woorde te begryp: ‘Dit help nie julle broei mekaar warm in die kerk en hou mooi eredienste nie. Nee, Ek wil eerder hê julle moet mense help wat julle hulp regtig nodig het.’ “Dink mooi hieroor na; dan sal julle verstaan wanneer Ek sê dat Ek nie hier is om mense wat klaar aan God gehoorsaam is weer na Hom toe te lei nie. Nee, dit is die mense wat nie van Hom weet nie wie se oë Ek graag vir God wil oopmaak.”

14. Johannes se volgelinge het ook begin wonder waarom Jesus-hulle so anders optree wanneer dit by godsdienstige gebruike kom. Hulle vra toe vir Jesus: “Kyk hoe getrou hou ons en die ander godsdienstige Jode die vastye. Vir lang tye sonder ons ons vir God af en eet niks nie. Waarom steur jou dissipels hulle glad nie daaraan nie?”

15. Jesus antwoord: “Wel, omdat nuwe dinge in hierdie wêreld aan die gebeur is. Op ’n troue staan mense mos nie en huil nie. Allesbehalwe! Terwyl die troue aan die gang is, hou almal mos fees. As die fees eers verby en die bruidspaar weg is, kan hulle weer met hulle gewone lewe aangaan en huil as hulle wil.

Lees volledige hoofstuk Matteus 9