Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 9:19-37 Die Boodskap (DB)

19. Sonder om te huiwer staan Jesus en sy dissipels op om saam met hom te gaan.

20. Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het. Niks wou help nie en

21. sy het geredeneer: “As ek net aan Jesus kan raak, weet ek ek sal gesond word.” Toe Jesus dus opstaan, kry sy haar kans. Sy kom van agter af en vat aan Hom.

22. Jesus draai om en kyk vir haar: “Jou dae van bekommernis is verby. Omdat jy so vas geglo het in wat Ek vir jou kan doen, sal daardie siekte jou nooit weer pla nie.” En die vrou was van daardie oomblik af gesond.

23. Daarna is Jesus-hulle saam met die vername man. By sy huis kry hulle mense wat vreeslik huil en rou. Dit het ’n groot lawaai afgegee. Jesus skreeu toe bo die geraas uit:

24. “Gaan asseblief uit die huis uit. Die dogtertjie is nie regtig dood nie. Sy slaap net.” Toe die mense Hom dit hoor sê, was daar ’n beroering. Hulle kon hulle lag nie hou nie en het Hom begin koggel.

25. Eers toe almal uit was, het Jesus by die huis ingegaan. Hy het die meisie se hand gevat en dit styf vasgehou. Die meisie het haar oë oopgemaak en opgestaan.

26. Die nuus van wat daar gebeur het, het soos ’n veldbrand deur die hele omgewing versprei.

27. Net toe Jesus by die huis uitkom, skreeu twee blindes hard vir Hom: “Seun van koning Dawid, help ons, asseblief! Ons het u hulp bitter nodig!”

28. Jesus vra hulle: “Is julle heeltemal seker dat Ek julle kan help?” Vinnig antwoord hulle: “Natuurlik, Here.”

29. Jesus vat toe aan hulle oë en sê: “Mag dít gebeur waarop julle so hoop.” En dit het gebeur -

30. hulle kon weer sien. Jesus vra hulle toe baie mooi, maar tog ernstig: “Asseblief, moenie dat iemand agterkom wat hier gebeur het nie.”

31. Maar hulle was kwalik by die deur uit of hulle het daaroor begin praat. Hulle kon dit net nie vir hulleself hou nie. Almal het later daarvan geweet.

32. Net daarna het die mense ’n man na Jesus toe gebring wat in die mag van ’n bose gees was. Die bose gees het gekeer dat hy ’n woord kon uitkry. Jesus het die bose gees verwilder en

33. dadelik het die man begin praat. Die mense was skoon uit die veld geslaan. “Nog nooit het ons so iets in Israel gesien nie!” het hulle vir mekaar gesê.

34. “Nee wat,” het die Fariseërs verskoning probeer soek, “hierdie man werk vir die duiwel. Daarom luister die bose geeste so vir hom!”

35. Jesus het by al die dorpies en klein plekkies langs gegaan. By hulle byeenkomste het Hy lank met die mense gesels oor hoe hulle die Joodse Bybel moes verstaan. Hy het veral vir hulle die goeie nuus van God se nuwe wêreld vertel. Met Jesus se koms kon die mense ook al hoe meer agterkom hoe God se nuwe wêreld lyk. Daarom het Hy mense met allerhande siektes en kwale gesond gemaak.

36. Jesus het na al hierdie mense om Hom gekyk. Hulle het vir Hom gelyk soos skape wat sonder ’n herder ronddwaal. Dit was of hulle nie meer krag oorgehad het om aan te gaan nie en sommer net daar wou bly lê. Daarom wou Jesus hulle regtig graag help.

37. Hy sê toe vir sy dissipels: “Die lande staan ryp met ’n groot oes, maar daar is so min mense om die oes in te samel.

Lees volledige hoofstuk Matteus 9