Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 21:28-46 Die Boodskap (DB)

28. Voor die Joodse leiers nog kon padgee, sê Jesus: “Wag so ’n bietjie. Sê My, wat dink julle van hierdie verhaal? “Daar was ’n pa met twee seuns. Hy is eers na die eerste seun toe. ‘Ou seun,’ vra hy, ‘sal jy nie asseblief vandag met die boerdery gaan help nie?’

29. ‘Ek is nie lus nie,’ sê die seun. Sy gewete het hom egter gou begin pla. Hy is tog daar weg om te gaan help.

30. Die pa is intussen na die tweede seun toe. Hy vra hom ook om te gaan help. ‘Goed, Pa, ek sal gaan,’ sê die seun dadelik. Dit was egter net leë woorde, want hy het nooit gegaan nie.

31. Nou vra Ek julle: Watter seun het gedoen wat sy pa gevra het?”“Hoekom vra jy nog? Die eerste een natuurlik.” “Weet julle wat?” sê Jesus toe. “Julle gaan eendag staan en kyk hoe die mense op wie julle so neersien voor julle by God se nuwe wêreld instap. Ja, Ek praat van mense soos prostitute of die tollenaars van wie julle niks hou nie. Julle dink mos julle is beter as hulle! En weet julle hoekom gaan hulle voor julle instap?

32. Johannes het julle die pad kom wys wat God wil hê julle moet loop, maar julle het julle natuurlik nie aan hom gesteur nie. Die prostitute en die tollenaars het egter aan sy lippe gehang en God se pad begin loop. Julle het die neus vir hulle opgetrek, en wat is die gevolg? Julle is nog steeds op die verkeerde pad!”

33. “Maar dit is nie al nie,” sê Jesus. “Luister ’n bietjie na hierdie verhaal: daar was ’n ryk boer wat ’n wingerd aangeplant het met alles wat nodig was. Rondom die wingerd het hy ’n stewige draad gespan. Hy het ook ’n plek reggemaak waar hy wyn kon maak. Die boer moes op ’n lang reis gaan en hy verhuur toe die wingerd aan ander boere. Hy het met hulle ooreengekom om vir hom van die druiwe as huur vir die grond te betaal.

34. Toe die druiwe begin ryp word, stuur die eienaar van sy werkers na die wingerd toe om sy druiwe te kry.

35. In plaas van druiwe het hierdie werkers ’n onaangename verrassing gekry. Een is deur die boere aangerand. Gelukkig het hy nog bly leef, want ’n ander een is doodgemaak. Die boere het nog een onder die klippe gesteek, maar hy het darem weggekom.

36. “Toe stuur die eienaar ’n hele klomp van sy werkers. Met hulle het dit egter nie beter gegaan nie. Hulle is net so sleg behandel.

37. “Uiteindelik besluit hy om sy seun te stuur. Hy het geredeneer dat hulle niks aan sy seun sou doen nie. Vir sy seun behoort hulle mos net soveel respek te hê as vir hom. Hulle sal hom sekerlik goed behandel.

38. Maar dit het nie so gebeur nie. Toe die boere die seun sien aankom, sit hulle koppe bymekaar. ‘Weet julle,’ sê hulle vir mekaar, ‘daardie seun gaan eendag hierdie grond erf. Dis nou ons kans. As ons hom nou doodmaak, sal ons mos later self die grond in die hande kan kry. Wanneer die eienaar eendag doodgaan, sal daar niemand meer oor wees om hier te boer nie.’

39. Voor die seun mooi weet wat aangaan, pak almal hom en sleep hom die veld in. Daar het hulle hom doodgemaak.”

40. Jesus vra toe die klomp Joodse godsdienstiges: “Wat dink julle gaan die eienaar met die spul boere doen wanneer hy terugkom?”

41. Die godsdienstiges was gou om te antwoord: “Ons dink die hel gaan om daardie boere losbrand. Daardie wingerd gaan nooit hulle s’n word nie, want die eienaar gaan hulle op die verskriklikste manier denkbaar straf. Hy sal dan die wingerd aan ander boere verhuur wat hulle huur op die regte tyd sal betaal.”

42. Toe sê Jesus vir hulle: “Reg, maar moet Ek julle herinner aan wat daar in die Joodse Bybel staan?‘’n Klip wat die bouers nie eens wou gebruik nie en eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien!’

43. “Nou wil Ek by julle kom. Julle gaan julle plekke by God verloor. Om die waarheid te sê, God gaan julle soos die eerste boere uit sy nuwe wêreld gooi. Soos die tweede groep boere die eerste boere se plek gekry het, so sal God julle plekke dan aan mense gee wat doen wat Hy van hulle vra.

44. “Oppas! Wie op hierdie Klip val, gaan bitter seerkry. Maar op wie die Klip val, van hom gaan niks oorbly nie.”

45. Die groep Joodse godsdienstige leiers het die skimp verstaan en hulle kon dit nie verwerk nie.

46. Daarom wou hulle Jesus sommer daar en dan in die tronk stop. Die gewone mense was egter oortuig dat Jesus regtig die Boodskapper van God is. Daarom kon die leiers op daardie tydstip niks aan Jesus doen nie.

Lees volledige hoofstuk Matteus 21