Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 2:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Jesus is in die dorp Betlehem gebore. Dit is in die landstreek van Judea. In daardie tyd was Herodes die Grote die koning van die mense in Palestina. ’n Paar sterrekenners uit die ooste het kort na Jesus se geboorte in Jerusalem aangekom.

2. Hulle het oral in Jerusalem begin rondvra waar hulle die ware koning van die Jode kon vind. “Ons het ’n ster in die ooste gesien. Dit is die bewys dat ’n baie belangrike koning hier in julle land gebore is. Daarom het ons hierheen gekom om aan hom eer te kom bewys.”

3. Kort voor lank het Herodes ook van die geleerdes uit die ooste se storie te hore gekom. Hy was baie omgekrap oor wat hulle oor die nuwe Joodse koning gesê het. So ook die res van Jerusalem.

4. Daarom het hy gou al die godsdienstige leiers en die skrifkenners van die volk byeengeroep. Hy wou by hulle weet presies waar die Messias, God se Gestuurde, gebore sou word.

5. “In Betlehem, in die landstreek van Judea,” het hulle geantwoord. Die profeet Miga het immers geskryf:

6. “Betlehem, jy is lankal nie meer ’n onbenullige klein plekkie iewers in Juda nie. ’n Groot leier sal nog uit jou midde kom. Hy sal Israel lei, net soos ’n herder sy skape lei.”

7. Herodes het toe ’n geheime ontmoeting met die sterrekenners uit die ooste gereël. Hy het vir hulle gevra wanneer hulle die ster vir die eerste keer gesien het.

8. Daarna sê hy vir hulle: “Julle moet na Betlehem toe gaan. Gaan soek die kind daar tot julle hom kry! Laat weet my ook waar hy is, want ek wil hom gaan besoek om eer aan hom te bewys.”

9. Hierna is die geleerdes reguit Betlehem toe. Toe dit donker word, het hulle dieselfde ster wat hulle vroeër in die ooste gesien het, in die lug bokant hulle opgemerk.

10. Daaroor was hulle baie bly. Dit het stadig voor hulle uitbeweeg. Uiteindelik het die ster tot stilstand gekom bokant die plek waar Jesus en sy ouers was.

11. Die sterrekenners het toe daar ingegaan. Toe hulle Jesus sien, het hulle dadelik op hulle knieë neergeval. Uit respek het hulle laag op die grond voor Hom gebuig. Toe maak hulle hulle bagasie oop en haal ’n klompie geskenke uit wat hulle vir Hom saamgebring het: goud, wierook en mirre.

Lees volledige hoofstuk Matteus 2