Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 14:2-21 Die Boodskap (DB)

2. “Dit kan net Johannes die Doper wees wat uit die dood teruggekom het. Daarom doen hy nou al hierdie wonderwerke.”

3. Johannes het natuurlik vroeër vir Herodes in die openbaar van owerspel beskuldig omdat hy sy broer, Filippus, se vrou afgevat het.

4. Haar naam was Herodias. Johannes het reguit vir Herodes gesê: “Dit is verkeerd dat jy haar vir jou vat!” Herodes was so kwaad hieroor dat hy Johannes in die tronk gegooi het.

5. Hy wou Johannes daar en dan doodmaak. Maar hy het besef dat dit tot ’n opstand onder die mense kon lei omdat hulle Johannes as ’n spesiale boodskapper van God beskou het.

6. ’n Rukkie later het Herodias haar verjaardagpartytjie gehou. Haar dogter het vir al die gaste gedans.

7. Herodes was baie beïndruk met haar. Hy het haar nader geroep en plegtig voor almal beloof om haar enigiets te gee wat sy vra.

8. Op aandrang van haar ma sê sy toe vir Herodes: “Ek wil graag Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord hê.”

9. Hierdie versoek het Herodes heeltemal onkant betrap. Hy was baie omgekrap hieroor, maar hy het besef dat hy sy woord moes hou. Sy eer was op die spel voor al die gaste.

10. Daarom het hy sy soldate gestuur om Johannes se kop in die tronk te gaan afkap.

11. Hulle het daarna sy kop op ’n skinkbord vir die meisie gebring. Sy het dit na haar ma toe gevat.

12. Later het Johannes se volgelinge sy liggaam kom haal en gaan begrawe. Hulle het vir Jesus gaan vertel wat gebeur het.

13. Toe Jesus die slegte nuus oor Johannes se dood hoor, het Hy in ’n skuit geklim en na ’n eensame plek weggevaar. Hy wou graag alleen wees omdat Hy hartseer was oor Johannes se dood. Die mense het egter gehoor waarheen Hy op pad was. Kort voor lank het inwoners van die dorpe rondom die See van Galilea daarheen begin stroom.

14. Toe Jesus by sy bestemming aankom, het ’n groot skare Hom ingewag. Toe Hy hulle sien, het Hy hulle baie jammer gekry, veral toe Hy al die siekes sien wat op Hom wag. Hy het dadelik begin om hulle gesond te maak.

15. Later, toe dit aand word, het die dissipels bekommerd geraak. Hulle het vir Jesus kom sê: “Ons is hier op ’n verlate plek en dit word al donker. Stuur die mense terug na hulle huise toe sodat hulle kan gaan eet.”

16. “Dit is nie nodig dat hulle nou al huis toe gaan nie. Gee julle sommer vir hulle iets om te eet,” het Jesus geantwoord.

17. “Ons het net vyf brode en twee visse hier by ons,” het hulle verbaas gereageer.

18. Jesus sê toe: “Bring dit hier.”

19. Hy het die skare op die gras laat sit. Toe vat Hy die visse en die brood, kyk op na die hemel en sê vir God daarvoor dankie. Hy begin toe die brood in stukke breek en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer aan die mense uitgedeel het. Jesus het aangehou om dit te doen totdat almal genoeg gekry het om te eet.

20. Na die ete het die dissipels twaalf mandjies vol oorskietkos opgetel.

21. Net die mans alleen was sowat 5 000. Dit is behalwe al die vroue en kinders wat ook daar was.

Lees volledige hoofstuk Matteus 14