Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 13:40-56 Die Boodskap (DB)

40. Ons het gesien dat die onkruid ná die oes eenkant gegooi en verbrand word. Wanneer God mense finaal kom oordeel, gaan hierdie wêreld net so aan ’n einde kom.

41. Die Seun gaan sy engele stuur om te kom oes. Hulle gaan eers al die mense bymekaarmaak wat ander so op die verkeerde pad lei en nie doen wat God wil nie.

42. Vir hierdie mense is daar dan geen uitkoms meer nie, net die vlamme van die hel. Daar sal hulle van pyn krul en om hulp skreeu, maar alles tevergeefs.

43. Die mense wat reg geleef het, sal dan die nuwe wêreld van hulle Vader skitterend versier.“Neem hierdie dinge ernstig op.“Luister mooi na wat Ek sê.”

44. “Luister ook hierna. Om God as jou Here te hê is so spesiaal dat dit vergelyk kan word met ’n skat. Die skat het in die veld gelê. Toevallig ontdek iemand dit toe eendag, maar hy kon dit nie vat nie omdat dit nie sy grond was nie. Hy maak die skat toe weer mooi toe. Hy was so opgewonde daaroor dat hy al sy besittings gaan verkoop het. Met die geld het hy toe daardie stuk grond gaan koop.

45. “Die vergelykings met ’n juwelier en ’n visnet kan julle ook help om te verstaan wat God se nuwe wêreld vir mense kan beteken.

46. “’n Juwelier het die wêreld vol gereis op soek na goeie pêrels. Skielik loop hy ’n uitsonderlike en baie waardevolle pêrel raak. Hy wou dit vreeslik graag hê. Daarom gaan verkoop hy toe alles wat hy het en koop die pêrel.

47. “Julle weet mos dat allerhande soorte vis gewoonlik met nette in die meer gevang word.

48. As die net vol vis is, sleep hulle dit wal toe. Dan soek hulle eers die vis uit. Die eetbare vis hou hulle, en hulle raak ontslae van die vis wat hulle nie wil hê nie.

49. “By die laaste oordeel sal dit ook so gaan met die mense. Die mense wat reg gelewe het, sal by God gaan staan.

50. “Maar die hel is die voorland van hierdie klomp slegte mense wat niks vir God omgegee het nie. Daar sal hulle skreeu en kerm van pyn, maar alles tevergeefs.

51. “Begin julle nou verstaan wat Ek vir julle wil sê?” Die dissipels antwoord: “Beslis!”

52. Jesus sê toe vir hulle: “Iemand wat geleerd is in die Joodse wet ken die ou boodskap. As hy My begin volg en verstaan, leer hy ook die nuutheid van God se boodskap ken. Hy is soos iemand wat ou en nuwe dinge in sy huis het en presies weet waar elkeen se plek is.”

53. Jesus is van die meer af terug huis toe.

54. Later is Hy na die byeenkoms van die Jode toe waar Hy lank met die mense oor God se nuwe wêreld gesels het. Hy het aan hulle verduidelik hoe hulle dit moet verstaan. Dit het die mense baie nuuskierig aan die praat gesit. “Waar kom hy aan al hierdie kennis en die krag om hierdie wonderlike dinge te doen?” het hulle gewonder.

55. “Is sy pa nie maar ’n eenvoudige skrynwerker nie? By hom kon hy dit sekerlik nie geleer het nie! En die res van sy familie? By hulle ook nie. Ons ken hulle almal goed, van sy ma Maria af, sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas en sy susters ook, die hele klomp van hulle.

56. “Hulle is maar ongeleerde mense net soos ons. Dit kon nie een van hulle gewees het wat hom dit geleer het nie. Nou wonder ons, waar kom hy aan alles?” Met alles wat Hy geweet en gedoen het, het Hy vir hulle soos ’n vreemdeling gevoel. Hulle kon Hom nie verstaan nie en het nie gevoel dat Hy deel van hulle was nie.

Lees volledige hoofstuk Matteus 13