Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 13:21-36 Die Boodskap (DB)

21. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie.

22. “Ander saad het weer tussen die doringbosse geval ... Dit is soos iemand wat God se boodskap gretig aanvaar. En tog, in die alledaagse lewe word die eise wat sy beroep stel en al die ander dinge waarmee hy hom besig hou, ja, selfs die gejaag na geld, vir hom belangriker as sy geloof. Hy het nie meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. So verdring al hierdie ander dinge die geloof eenvoudig uit sy lewe uit. Later kan ’n mens nie eens meer agterkom dat hierdie persoon Jesus se boodskap so gretig aanvaar het nie.

23. “Daar was ook goeie grond waarin die saad geval het ... Dit is iemand wat die boodskap van God gehoor het en diep daardeur getref is. Hy het met oorgawe reg begin leef. In alles wat hy doen of sê, borrel sy Christenskap eenvoudig uit. Daar is geen keer aan nie.”

24. “Maar Ek het nog ’n verhaal vir julle. Vergelyk nou hierdie verhaal met ’n geestelike waarheid oor hoe God in die wêreld regeer. “Daar was ’n boer. Hy het skoon saad, sonder enige onkruid tussenin, in sy land gesaai.

25. Daardie nag, terwyl almal slaap, kom sy vyand skelm en saai ’n klomp onkruid tussen sy koring. Hierdie onkruid het baie soos koring gelyk, maar toe die oes kom, was daar nie ’n enkele koringaar aan die plante nie. Die koring en die onkruid het natuurlik lustig saamgegroei.

26. Toe die koringare begin vorm, kom die plaaswerkers die probleem agter.

27. Hulle is toe reguit na die boer toe. ‘Meneer, jy het dan sulke mooi skoon saad gesaai. Hoe is dit moontlik dat die land so vol onkruid staan?’

28. Die boer sê toe: ‘Wie anders as die vyand sal so iets doen?’“‘Moet ons die lande gaan skoonmaak?’ wou die werkers weet.

29. ‘Nee,’ sê die boer, ‘netnou trek julle van die koring saam met die onkruid uit.

30. Die onkruid moet nou maar saam met die koring groei tot die koring ryp is. As ons begin oes, sal ons eers die onkruid uithaal en verbrand. Dan kan ons die koring oes en in die skuur bêre.’”

31. Jesus het voortgegaan met nog ’n verhaal: “God se nuwe wêreld kan met ’n baie klein saadjie, ’n mosterdsaadjie, vergelyk word. Iemand vat daardie klein saadjie en plant dit buite.

32. Uit hierdie piepklein saadjie groei so ’n groot struik dat dit bo al die ander plante in die tuin uitstaan. Om die waarheid te sê, dit is so groot dat voëls selfs daarin nes kan maak.”

33. Jesus het verder gepreek: “Luister nou na die verhaal oor die suurdeeg. God se nuwe wêreld werk net so. ’n Vrou vat ’n bietjie suurdeeg en knie dit goed in ’n groot skottel deeg in. Na ’n ruk sal die suurdeeg elke stukkie deeg in daardie skottel laat rys.”

34. So het Jesus die een verhaal na die ander vertel.

35. Die profete het mos al voorspel: “Ek sal verhale gebruik as Ek preek. So sal Ek julle dinge vertel wat niemand nog ooit gehoor het nie.”

36. Daarna is Jesus en sy getrouste volgelinge alleen huis toe. Daar gekom, vra hulle Hom: “Ons verstaan nie mooi wat U met die verhaal van die onkruid bedoel het nie. Verduidelik dit asseblief vir ons.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 13