Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 10:27-38 Die Boodskap (DB)

27. “Wat Ek vir julle gesê het toe ons alleen was, moet julle vir almal gaan vertel. Ons het oor baie dinge hier onder ons gepraat. Dit moet nie net hier tussen ons bly nie. Die hele wêreld moet dit hoor.

28. “Sê My, vir wie dink julle moet ’n mens uit eerbied die bangste wees, vir mense of vir God? Onthou altyd, mense kan miskien jou liggaam doodmaak, maar hulle kan niks aan jou siel doen nie. God kan jou liggaam en jou siel in die hel gooi. Dit is nou regtig iets om voor bang te wees!

29. “Wat dink julle sal iemand vir ’n mossie wil betaal? ’n Paar sent miskien, of hoe? Al is hulle vir ons so min werd, gee God tog baie vir hulle om. Kyk net hoe sorg Hy vir hulle. Nou nog ’n vraag: Wat dink julle, vir wie gee God die meeste om, vir mossies of vir julle? Ek hoef eintlik nie eens hierop te antwoord nie:

30. God gee natuurlik duisend maal meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik.

31. Nou ja, as julle dit weet, hoef julle mos nie meer bang te wees vir wat mense aan julle kan doen nie.“Wees dus getroos, maar ook gewaarsku.

32. “Julle kan getroos wees as julle in die vyandige wêreld my boodskap bly verkondig, al gebeur wat ook al. Dan sal Ek baie goeie getuigskrifte oor julle vir my hemelse Vader gee.

33. “Wees ook gewaarsku dat iemand wat nie oor My wil praat as die gevaar nader kom nie, nie moet verwag dat Ek allerhande mooi dinge oor hom vir die hemelse Vader sal vertel nie.”

34. “Dit is nie altyd lekker en maklik om ’n Christen te wees nie. Daarom moet jy goed weet wat vir jou die belangrikste is.“Ek het nie gekom om almal net te paai of tevrede te hou nie.

35. My boodskap maak ook vyande. Mense wat nie met My saamstem nie, sal met My - en met julle - wil baklei. Hulle sal selfs teen ons wil oorlog maak. Dit moet julle besef: die oomblik toe Ek gekom het, het die verhoudings tussen mense gespanne begin raak.

36. Selfs die intiemste verhoudings het begin verkrummel, soos die verhouding tussen ’n seun en sy pa, tussen ’n dogter en haar ma, ’n bruid en haar skoonma. Ja, tot die gesin, waarin mense veronderstel is om mekaar die liefste te hê, sal nie gespaar bly nie. “Julle vra waarom. Wel, dit gaan eintlik oor wie of wat vir jou as Christen die belangrikste is.

37. Luister, as jy voel dat jy liewer lojaal moet bly aan jou pa of ma as aan My, verdien jy My nie. Dieselfde geld vir jou seun of dogter of wie ook al. Ek moet altyd vir jou die belangrikste van almal wees. Ek moet die belangrikste in jou lewe wees.“Ja, alles gaan oor wie of wat vir jou die belangrikste is.

38. Iemand wat sy lewe die moeite werd probeer maak deur heeltyd agter mense aan te hardloop, sal agterkom dat hy die ware lewe heeltemal misloop.

Lees volledige hoofstuk Matteus 10