Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 10:15-21 Die Boodskap (DB)

15. Troos julle hieraan: wanneer God die dag kom om almal te oordeel, gaan hierdie mense besef dat hulle verkeerd was. Hulle gaan baie spyt wees, maar spyt kom altyd te laat. Saam met die ou stede soos Sodom en Gomorra wat so bekend was vir hulle sonde, gaan hierdie mense lelik onder God se oordeel deurloop.

16. “Moenie dink alles sal altyd net goed gaan nie. Die gevare en probleme is groot en baie. Dit is byna so gevaarlik soos ’n herder wat sy skape deur ’n bos lei waar dit wemel van die luiperds en leeus.

17. Daarom moet julle ingesteldheid reg wees. Julle moet presies weet wat julle wil doen. Probeer ook om mense nie aanstoot te gee of kwaad te maak nie.”“Julle moet ook weet wat op julle wag. Die mense gaan vir julle baie probleme gee. Net omdat julle aan my kant is, sal hulle julle sommer in die tronk wil gooi. Hulle sal julle op die lelikste moontlike maniere voor almal slegsê. En dit is nie al nie. Hulle sal julle by die polisie gaan aankla asof julle boewe is.

18. “Om twee redes hoef dit julle nie bang te maak nie. Wat hierdie mense nie weet nie, is dat hulle julle eintlik ’n guns doen: hulle trek al die aandag na julle toe. Almal, selfs mense wat nie eens Jode is nie, sal nuuskierig wees om te hoor wat julle sê. So sal hulle die goeie nuus hoor, of hulle nou wil of nie!

19. “As hulle julle voor die hof sleep, hoef julle nie oor prokureurs of advokate bekommerd te wees nie. Julle hoef nie te wonder oor hoe julle julle gaan verdedig nie. God gaan julle verdedig. Wie weet beter as Hy wat om te sê? Wanneer julle beurt dus kom om iets te sê, sal die regte woorde wel daar wees.

20. Dit sal nie julle woorde wees nie; die Gees van julle Vader sal self vir julle elke woord gee wat nodig is. “Die ergste van alles het Ek julle nog nie vertel nie. Dit sal nie net vreemde mense wees wat julle ernstige moeilikheid gaan gee nie.

21. Dit sal tot gebeur dat ’n broer teen sy eie broer draai, of ’n pa teen sy kind. Glo dit of nie, sulke mense sal teen hulle eie bloedfamilie draai. Hulle sal selfs wil hê dat hulle doodgemaak moet word. Later sal die kinders selfs soos rebelle die mag in eie hande neem en sommer hulle eie pa en ma doodmaak.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 10