Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 1:11-23 Die Boodskap (DB)

11. Josia was die pa van Jojagin en sy broers. In daardie tyd is die Israeliete as slawe na Babilonië toe weggevoer.

12. God het gesorg dat die Babiloniese ballingskap nie ’n einde aan die geslagsregister van Jesus gemaak het nie. Jojagin het kort daarna ’n seun gehad met die naam Sealtiël. Sealtiël se seun was Serubbabel.

13. Op sy beurt was Serubbabel die pa van Abihud, en Abihud die pa van Eljakim. Eljakim het ’n seun gehad met die naam Asor.

14. Asor was die pa van Sadok, en Sadok die pa van Agim. Agim het sy seun Elihud genoem,

15. terwyl Elihud sý seun Eleasar genoem het. Eleasar was weer die pa van Mattan. Mattan was die pa van Jakob.

16. Jakob was die pa van Josef, die man van Maria. Sy is die vrou wat Jesus in die wêreld gebring het. En Jesus is natuurlik die Messias, die Gestuurde van God.

17. In Jesus se geslagsregister is daar veertien geslagte van Abraham tot by Dawid. Daarna, van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap, is daar nog veertien geslagte. Na hierdie groot krisis in Israel se geskiedenis is daar nog veertien geslagte tot by Christus se geboorte.

18. Nou kom ons by die verhaal van Jesus Christus se geboorte. Dit het so gebeur: Daar was ’n vrou met die naam Maria.

19. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef. Op ’n dag het hy uitgevind Maria verwag ’n kind. Josef was baie omgekrap hieroor, want hy het geweet dat dit nie sy kind was nie. Natuurlik was dit die Heilige Gees wat Maria laat verwag het, maar Josef het dit toe nog nie geweet nie. Omdat Josef die wette van Moses goed geken het, het hy geweet dat dit ’n groot skande vir ’n ongetroude vrou was om ’n baba te verwag. Hy wou Maria nie verneder deur die verlowing in die openbaar te verbreek nie. Daarom het hy besluit om stilweg die verlowing te verbreek voordat almal van Maria se swangerskap te hore kom.

20. Terwyl Josef besig was om planne te beraam hoe om uit sy verknorsing te kom, het hy een nag ’n droom gehad. ’n Engel van die Here het vir hom kom sê: “Trou met Maria. En moenie bekommerd wees nie. Dit is die Heilige Gees wat haar laat verwag het.

21. Sy gaan een van die dae ’n Seun hê. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal sy volk binnekort van al hulle sondes vrymaak.”

22. So het die woorde waar geword wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het:

23. “’n Jongmeisie wat nog nie by ’n man geslaap het nie, gaan binnekort geboorte aan ’n seun gee. Hulle sal hom Immanuel noem.”(As ’n mens hierdie Hebreeuse naam vertaal, beteken dit: God is hier by ons.)

Lees volledige hoofstuk Matteus 1